GEORGE NUUS - Vervaldatums op produkte in spazawinkels word fyn deur Pacaltsdorp-buurtwaglede dopgehou.
Een van die lede het hul verlede naweek tot Facebook gewend met 'n inskrywing oor produkte wat lank na die vervaldatum by 'n sekere spazawinkel op die rakke is.
Rudy Ruiters, 'n buurtwaglid wat hierdie kwessie baie ernstig opneem, het gesê hulle werk nou saam met hul wyksraadslid, Marchell Kleynhans, om die probleem aan te spreek.
"Dit is belangrik om te noem dat heelwat van die spazawinkels hulle hieraan skuldig maak," het hy gesê.
"Dit is nie net een enkele winkel nie. Ons word ook vertel dat van die produkte wat bestel word, 'n dag voor die vervaldatum afgelewer word. Dit is 'n groter probleem as wat 'n mens dink."
Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) se kantoor vir munisipale gesondheid het by navraag gesê hulle is onbewus van hierdie voorval wat op sosiale media gepubliseer is. Roetine-inspeksies is wel op 24 Oktober deur die munisipaliteit se praktisyns vir omgewingsgesondheid by die spesifieke winkel gedoen, en hulle onderneem om binnekort weer die betrokke winkel te besoek.
Die distriksmunisipaliteit is tans besig met blits-bedrywighede regdeur die distrik.
Tydens hul laaste besoek is die etikettering van voedselprodukte aangespreek, ooreenkomstig die regulasies oor die etikettering en advertensie van voedsel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’