GEORGE NUUS - Die nie-winsgewende organisasie, Alive for Jesus, is hard besig om fondse in te samel vir Kidstop in Borcherds, 'n veilige hawe vir sowat 230 kinders wat smiddae en oor skoolvakansies met 'n nasorgprogram besig gehou word.
Skoolverlaters word hier ingesluit. Kidstop is 'n veilige, prettige en opvoedkundige Christelike fasiliteit.
Alive for Jesus het 'n uitreikprojek van stapel gestuur wat tot knap voor Kersfees plaasvind en het die hulp van die gemeenskap nodig.
Donasies in die vorm van geld of items sal help om die projek momentum te gee. Sodra al die kinders geholpe is met hierdie benodighede sal alle ekstra fondse gebruik word vir 230 kospakkies vir hul gesinne.
"Kerke of selgroepe kan ook byvoorbeeld 230 blikkies kos skenk," het Elmarie Malan, van Alive for Jesus gesê.
Sy bestuur die organisasie saam met haar man, Izak.
Die gemeenskap word ook uitgenooi om by die Alive for Jesus-span aan te sluit wat op 23 Desember sal help met die voorbereiding van 'n Kersete vir die kinders en kospakkies vir hul gesinne. Hierdie etes en pakkies word op 24 Desember uitgedeel.
Groter prentjie
Behalwe vir die Kersfees-uitreik, wil Alive for Jesus graag help met ander behoeftes wat hulle raakgesien het.
Die volgende goedere word benodig vir 'n onmiddellike uitreik: klere, skoene, speelgoed en balle vir ouderdomme 3 tot 18. Los items op Vrydae tussen 10:30 en 12:00 by Varinglaan 20, Dormehlsdrift. Bybelbanke, tafels en bordspeletjies is ook broodnodig. Die een snoekertafel moet reggemaak word.
Jonico Booysen (13) wys hoe lyk die sakkies met skryfbehoeftes en toiletware (R150 per kind) wat deur Alive for Jesus uitgedeel word.
Ander items sluit in 'n tweeplaat-gasstoof met gassilinder vir Kidstop se kombuis en 'n rekenaar vir Kidstop se kantooradministrateur. Boonop is instandhouding van geboue dringend nodig.
Bouers en kontrakteurs kan Alive for Jesus kontak om 'n permanente verskil by die fasiliteite te maak.
Die badkamers benodig toilette en wasbakke. Die eet- en speelareas benodig houttafelblaaie en teëlwerk en verf van die gebou is nodig. Die dak moet ook herstel word.
Kontak die Malans by 082 412 8876 of stuur 'n e-pos aan admin@aliveforjesus.org. Besoek hul webwerf by www.aliveforjesus.org met die funksie om deur PayFast te skenk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’