Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Water wat vir minstens sewe ure soos 'n fontein uit 'n waterpyp in Delvillepark gespuit het, plaas die huidige situasie by die departement siviele ingenieurswese in perspektief.
"'n Mens het volle begrip vir die oortydkrisis, maar dis verskriklik wanneer 'n mens sien soveel water gaan verlore," het 'n inwoner, wat graag anoniem wil bly, vanoggend gesê.
Die fontein het ontstaan nadat die koperwatermeter van 'n eiendom in Antelopestraat Maandagaand gesteel is.
Die huiseienaars het die probleem aangemeld, maar hulp sou eers in kantoorure, Dinsdagoggend, opdaag.
Die gevolg is dat water onverpoos vir ure uit die pyp soos 'n fontein gespuit het.
Kyk 'n video hieronder:
In verlede week se George Herald is berig dat die siviele departement se oortydspanne van 00:30 tot omstreeks 07:45 nie aan diens is nie. Die rede hiervoor is om die geweldige hoeveelheid oortyduitgawes te besnoei.
"Die ou wat op bystand was, was vanoggend vroeg in Heroldsbaai," het die inwoner gesê. "Ons verstaan die situasie, dit is net moeilik om te sien hoe die water by die pad afloop, terwyl ons moet water spaar."
Lees 'n verwante artikel: More personnel over next decade
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'