GEORGE NUUS - Net soos miljoene ander Suid-Afrikaners, spring George se inwoners nie die skielike terugkeer van beurtkrag vry nie.
Talle inwoners was Sondag verbaas toe beurtkrag vir die eerste keer in maande ingestel is. In sakekringe is kommer uitgespreek oor die impak daarvan op sakeondernemings. Ook uit politieke geledere is daar fel kritiek.
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê Eskom is nie eerlik met Suid-Afrikaners nie. "Hulle speel nie oop kaarte nie."
Volgens Booysen belemmer dit groei. "As jy ontwikkeling wil lok, mag daar nie energieprobleme wees nie."
Dennis Farrel, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê die sakekamerraad het dit Dinsdag bespreek en dit is moontlik dat 'n opname onder sy lede gedoen gaan word om die impak te probeer bepaal.
Volgens Farrel is dit veral hard op sakeondernemings wanneer beurtkrag in die middel van die dag, soos Dinsdag, ingestel word. Klein sakeondernemings soos restaurante en koffiewinkels word erg geknou. Voorts raak dit alle ondernemings wat inloopklante het.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, sê dit was 'n skok om van fase 1 te spring na fase 4 in 'n dag se tyd.
"Ons besef dat die regering aandag gee aan Eskom se probleme, maar dit het 'n negatiewe impak. Die meeste klein sakeondernemings kan nie kragopwekkers aankoop nie. Wanneer daar beurtkrag is, moet hulle hul deure vir 'n paar uur sluit. Dit hou ook veiligheidsrisiko's in."
Volgens Cilliers kan dit tot werksverliese lei en selfs beteken dat sakeondernemings hul deure sal moet sluit.
Cilliers het benadruk dit help nie om nou te blameer nie. "Ons moet hier uitkom en byvoorbeeld kyk hoe beurtkrag beperk kan word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'