GEORGE NUUS - Terwyl baie mense ivermektien koop, mik die regering om twee-derdes van Suid-Afrikaners in te ent om kudde-immuniteit te verseker. President Cyril Ramaphosa het Maandag gesê die eerste 1,5 miljoen dosisse entstof, wat deur AstraZeneca en die Oxford Universiteit ontwikkel is, word binnekort van Indië af verwag.
Gesondheids- en voorfrontwerkers is eerste in die ry.
Die Wes-Kaapse regering het vandeesweek met 'n inligtingsveldtog onder sy gesondheidswerkers begin om enige vrese die nek in te slaan en sodoende 'n hoë inentingspersentasie te verseker wanneer die middels hier aanland.
Georgiete versigtig
Die meeste van die paar Georgiete wat gevra is of hulle vir die inenting sal gaan, was onwillig. Redes vir hulle skeptisisme is die kort ontwikkelings- en toetstydperk van die entstowwe, berigte oor newe-effekte tydens proewe, en die persepsie dat boodskapper-RNA-entstowwe 'n mens se DNA kan beïnvloed.
'n Uitspraak deur epidemioloog prof. Salim Abdool Karim dat daar nie tans bewyse is dat die huidige entstowwe effektief sal wees teen die nuwe variant van Covid-19 nie dra by tot die onsekerheid.
Langtermyn komplikasies van nuwe entstowwe
Dr. Jantjie Taljaard van die Tygerberg-hospitaal se eenheid vir oordraagbare siektes sê die langtermyn komplikasies wat 'n entstof mag hê, weeg nie swaarder as die honderde duisende lewens wat gered kan word met die vroeë uitrol van inentingsprogramme nie.
"Vir die entstowwe wat reeds geregistreer is, is daar baie goeie kort- tot mediumtermyn veiligheidsdata. Hoewel daar nog nie genoeg tyd was om langer termyn komplikasies, byvoorbeeld oor vyf jaar, te dokumenteer nie, is die teoretiese moontlikheid van langer termyn komplikasies uiters laag."
Hy gee drie redes vir die "ongelooflike" spoed waarteen die nuwe entstowwe ontwikkel is:
n Daar was reeds pre-kliniese en fase 1-studies gedoen op moontlike vaksienkandidate tydens die SARS-1-uitbreking en met MERS-CoV. SARS-2, wat baie dieselfde lyk, en daarom was dit nie nodig om tyd te spandeer op daardie stappe nie.
n Die nuwer tegnologie wat gebruik word maak dit moontlik om die vaksien totaal en al in die laboratorium te ontwerp, sonder die nodigheid vir die gebruik van regte SARS-virusse in vlak 3-hoëveiligheids-laboratoriums. Verstellings wat herhaaldelik gedoen moet word met die ontwikkeling van 'n nuwe entstof, hoef dus nie deur die verskeie tydsame prosesse te gaan nie maar verstellings kan sommer direk op die ontwerpte vaksien gemaak word.
n Laastens het vaksienontwikkelaars, regerings- en nie-regeringsorganisasies soos nooit tevore nie wêreldwyd gemobiliseer om so gou moontlik Covid-19-entstowwe te ontwikkel.
Buiten die drie geregistreerde entstowwe is daar reeds meer as 40 ander kandidaat-entstowwe wat getoets word, verskeie reeds in fase 3-studies.
'Vrese oor DNA ongegrond'
Taljaard sê vrese dat boodskapper-RNA menslike DNA kan verander is totaal ongegrond en onwetenskaplik.
"Die Phizer- en Moderna-entstowwe gebruik boodskapper-RNA (mRNA) wat die kode bevat vir die spike-proteïen van die koronavirus. Dit word ingespuit en deur jou immuunselle opgeneem wat dan die s-proteïen aan die res van die immuunstelsel wys sodat dit 'n respons kan ontwikkel.
"Die mRNA word deur die immuunselle vernietig en dis die einde daarvan. DNA kom glad nie hier in gedrang nie.
"Die Astra-Zeneca/Oxford-entstof gebruik tegnologie wat reeds baie suksesvol gebruik is met die Ebola-entstof. Hulle gebruik 'n ander onskadelike virus - in hierdie geval 'n adenovirus wat normaalweg sjimpansees infekteer - om die kode vir die spike-proteïen in die liggaam in te dra. Die immuunstelsel reageer dan weereens op hierdie s-proteïen en ontwikkel sodoende immuniteit. Weereens word die adenovirus deur die immuunstelsel vernietig en is menslike DNA glad nie hierby betrokke nie."
Covid-19-variante
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) het verlede week in 'n verklaring gesê die mutasies in die nuwe Covid-19-variant (SARS-CoV-2 501Y.V2) help die virus om geheel en al aan teenliggaampies te ontsnap.
Dit is waargeneem in plaaslike studies wat gedoen is met behulp van skenkers-bloedplasma wat reeds teenliggaampies bevat en versterk die vermoede dat herinfeksie deur verskillende variante moontlik is.
Dit kan ook dui op die moontlikheid van verminderde effektiwiteit van die huidige entstowwe.
Sal jy kan reis sonder inenting?
'n Mens gaan waarskynlik nie 'n ander keuse hê as om ingeënt te word as jy internasionaal wil reis nie. Volgens Jareen Schoeman van Sure Travel in George het hulle nog geen kennisgewings ontvang van Covid-inentingsvereistes nie.
"Maar as inenting op 'n groot skaal uitgerol word en die land waarheen jy wil reis vereis dit, sal jy dit moet laat doen, of tuisbly.
Tans dek reisversekering nie verliese as gevolg van reiskansellasies weens Covid-19 nie, maar as jy reeds by jou bestemming is, word hospitalisasie gedek. Daar sal seker in die toekoms 'n klousule wees wat hierdie dekking sal uitsluit indien jy nie ingeënt is nie."
Lees meer aanlyn by www.georgeherald.com oor hoe die entstowwe so vinnig ontwikkel kon word en hoekom vrese oor boodskapper-RNA-entstowwe ongegrond is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'