GEORGE NUUS - Weens die regulasies rondom Covid-19 is Emmaüs beskermde werksentrum vir volwasse intellektuele gestremdes, se jaarlikse wintermark wat op 6 Junie sou plaasvind, afgestel.
Die maandelikse manne-afvalete is uitgestel en die jaarlikse manne-aand wat vanjaar op 4 September sou plaasvind is ook gekanselleer. Die Kersmark is voorlopig na Saterdag 5 Desember geskuif.
Volgens Ronette de Beer van Emmaüs, is die werkswinkels toe vir besoekers en dagwerkers, en die tweedehandse klerewinkel op die perseel is ook gesluit tot verdere kennisgewing.
“Grendeltyd hou baie finansiële implikasies vir Emmaüs in en inwoners mag nie die sentrum verlaat nie en mag ook nie besoekers ontvang nie,” sê sy.
Dit is baie moeilik vir hul inwoners om nie besoekers te ontvang of dorp toe te gaan nie, dus verwelkom hulle enige donasies of bederfpakkies wat vanaf die publiek vir hulle gebring word soos toiletware, eetgoed, ensovoorts.
Hulle wil graag die publiek se ondersteuning vra in hierdie tyd en bedank die wat omgee vir die intellektuele gestremdes.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'