GEORGE NUUS - Duhan van der Merwe (26), die internasionale rugbyspeler wat oorspronklik van George kom, is verloof.
Hy het gister, 9 September, aan Nika Badenhorst (27) in Dubai verloof geraak.
Van der Merwe het die jawoord op ‘n seiljag aan die beeldskone Badenhorst gevra.
Sy is oorspronklik van Johannesburg. Hulle het mekaar ‘n paar jaar gelede in Pretoria ontmoet toe Van der Merwe vir Tukkies (Universiteit van Pretoria) rugby gespeel het.
Daarna het sy rugbyloopbaan ‘n paar ander draaie gaan maak. Hy het onder meer verlede jaar die eerste keer vir Skotland uitgedraf en was vanjaar een van die uitblinkers in die Britse en Ierse Leeus se span wat in Suid-Afrika getoer het. Van der Merwe het in al drie die toetse teen die Springbokke gespeel.
Nika het destyds by hom in Edinburgh, Skotland aangesluit. Hulle gaan voortaan in Worcester, Engeland woon.
Na die toer het Van der Merwe by sy familie kom kuier. Sy ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en sy tweelingsussie, Simoné woon steeds in George. Van der Merwe het verlede Sondag na die buiteland teruggekeer.
Hy het sy skoolloopbaan in 2013 aan Hoërskool Outeniqua voltooi en dit is hier waar sy rugbytalente gewys het.
Dulene het vanoggend by navraag aan George Herald gesê Duhan het die ring in Suid-Afrika laat maak. Hy sou graag in Suid-Afrika verloof wou geraak het, maar as gevolg van die inperkingssituasie was dit nie moontlik nie. Nika was nie saam met hom in George nie.
“Ons is baie lief vir Nika en bly vir hulle part. Sy kyk baie mooi na hom.”
Image caption
Duhan vra die jawoord op ‘n seiljag in Dubai.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'