GEORGE NUUS - "Die vragmotor het van die pad afgetrek en sonder om twee keer te dink, stop die bestuurder en laai ‘n vrag plastiekware af."
Só vertel ‘n ontstoke ooggetuie wat verlede week moes toekyk hoe iemand gewetenloos rommel strooi.
Die bestuurder het toe nog die vermetelheid gehad om, nadat hy gekonfronteer is, te ontken dat hy die gemors daar gestort het. Die ooggetuie vertel hoe die werkers wat die plastiek van die vragmotor afgegooi het, onmiddellik met hul bedrywighede gestaak het toe hy langs die vragmotor stop. Die ooggetuie konfronteer toe die bestuurder, wat op sy beurt ontken dat hy enigiets afgegooi het.
"Maar ek het hom dan gesien," vertel die getuie. "Ek het agter hom aangery en toe hy stop by die Total Garage aan die bopunt van PW Botha Boulevard, neem ek ‘n foto.
"Ek kon sy ongeërgdheid nie glo nie."
Die registrasienommer van die vragmotor is DFM 101 MP.
Hierdie insident, wat op die oop stuk grond oorkant Roelcor Slagpale in George Industria plaasgevind het, is maar een van vele.
Die George Herald ontvang weekliks klagtes van mense wat moedeloos is weens ander se traak-my-nie-agtige houding en mense wat hul gemors op enige denkbare plek stort.
Hierdie gebeure is in skreiende kontras met die feit dat George vir die tweede jaar in ‘n ry die titel van naaswenner vir die skoonste dorp in die Wes-Kaap ontvang het.
André Smith, direkteur van die departement van omgewingsake, rig ‘n dringende versoek aan die publiek om sulke insidente te rapporteer by die wetstoepas-singsafdeling van George-munisipaliteit.
"Mense vat dikwels die korste roete en dan moet ons riviere en berghange skoonmaak. Dit jaag natuurlik munisipale uitgawes op," sê Smith.
Hy bevestig dat alle klagtes ondersoek word en maan mense aan om, indien moontlik, altyd die details van die voertuie deur te gee.
Om insidente van rommelstrooiery aan te meld, kontak wetstoepassing by 044 801 6530 tydens kantoorure en die brandweer by 044 801 6300 na-ure.
ARTIKEL EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR
Die plastiekafval wat verlede week op die oop stuk grond oorkant Roelcor-slagpale in George Industria gestort is.