GEORGE NUUS - Die jaar het op 'n hoë noot begin met 'n totaal van sewe babas wat op 1 Januarie 2025 in George gebore is - drie by Mediclinic George en vier by George-hospitaal.
George Herald het die voorreg gehad om vroeër vanoggend, 2 Januarie, die drietjies by Mediclinic te ontmoet. Die ouers het almal gesê hulle was verbaas met hul babas se koms, want die bevallings was vir ander dae bespreek.
Die sesde geslag Jacob Christoffel Cronjé het rustig in sy bedjie gelê en slaap, met sy trotse ouers, Retha en Japie Cronjé, langs sy sy.
Die Cronjés boer op Albertinia met beeste, skape en aalwyn.
Hul noemnaam vir hul kleinding is "Christo". Christo is vroegoggend 1 Januarie - 00:41 - met 'n noodkeiser gebore, en het 3,52kg met geboorte geweeg.
Volgens hul ouers verjaar Christo nou saam met die vierde geslag Jacob Christoffel Cronjé, wat hulle as Oom Jaco ken.
Die sesde geslag Jacob Christoffel Cronjé (noemnaam Christo). Foto: Michelle Pienaar
Retha en Japie Cronjé met hul kleinding, Christo. Foto: Michelle Pienaar
Sherise en Brandon Götz van Mosselbaai is hoogs in hul noppies met húl eersteling, Zian. Hy het 'n formidabele 4kg by geboorte geweeg en is omstreeks 16:18 met 'n keisersnee gebore.
Brandon en Sherise Götz van Mosselbaai met hul seuntjie, Zian. Foto: Michelle Pienaar
Pa Brandon het al te heerlik met sy seun op sy bors in die hospitaalkamer gesit toe George Herald kom kuier. Die familie was ook op pad om die nuweling te ontmoet.
Zian Götz op sy pa se bors. Foto: Michelle Pienaar
Liezel en Paul Snyman se dogtertjie, Anlia, het 3,75kg by geboorte geweeg. Sy is omstreeks 17:34 gebore. Anlia het haar ouers omtrent verras met haar koms, want die keisersnee was vir 3 Januarie bespreek. "Sy het besluit sy kom vroeër," sê haar ouers.
Anlia Snyman het 'n lieflike bos rooi hare, net soos haar pa, Paul, toe hy 'n kleuter was. Foto: Michelle Pienaar
Liezel en Paul Snyman met hul dogtertjie, Anlia. Foto: Michelle Pienaar
Paul Snyman op eenjarige ouderdom, met sy rooi hare. Anlia se ouma het dié foto gestuur om vir Paul te wys hoe trek sy dogter na hom. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’