GEORGE NUUS - Die gort was gaar in Conville vroeër vandag toe publieke onrus in dié woonbuurt uitgebreek het. Gerugte het boonop die rondte gedoen dat die polisie per abuis ‘n 11-jarige kind met rubberkoëls geskiet het.
Provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het by navraag gesê daar steek geen waarheid in die gerugte nie. “Geen skote is deur enige polisiebeampte geskiet nie,” het hy gesê.
Volgens Pojie is lede van die openbare orde-polisie (POPS) omstreeks 09:40 na Conville gestuur om plaaslike polisie-lede met 'n aanrandingsklag in Peddie Mullerstraat, Conville, te help, toe dinge oproerig geword het.
“Tydens die optrede moes POPS-lede skokgranate gebruik om die oproerige skare uit een te jaag,” het Pojie gesê. “Die skare het gedreig om ‘n petrolbom na die huis van die verdagte in die aanrandingsaak, te gooi.”
“Na aanleiding van ‘n verslag van die 11-jarige seun se stiefpa, dat die seun op die toneel geskiet, is hy na die Conville-polisiekantoor vergesel sodat die nodige ingryping kon plaasvind. Die seun het ‘n krapwond aan sy been gehad. In hierdie stadium het die vader mediese aandag aan die seun geweier.”
Volgens Pojie is 'n onderhoud deur die speurbeampte wat op bystand was, by die stasie gevoer. “Die vader het toe onthul dat die seun nie geskiet is nie, maar dat 'n hond, wat bang was vir die skokgranaat, hom omgespring het en sodoende 'n krapmerk aan sy been veroorsaak het. Weereens is mediese hulp aangebied, maar dit is van die hand gewys.”
“As gevolg van die betoging het ons 'n saak oor openbare geweld geopen, aangesien polisielede en hul hulpbronne deur lede van die gemeenskap van Peddie Mullerstraat met klippe bestook is,” het Pojie gesê. “’n Aanrandingsaak sal geregistreer word. Polisielede is tans besig 'n verklaring van die slagoffer bekom wat mediese hulp in die plaaslike hospitaal ontvang.”
Die pa van ‘n 11-jarige seun het later onthul dat die krapmerk aan sy seun se been deur ‘n hond veroorsaak is. Foto: Videogreep
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'