Menslike beendere is die eerste keer op 28 Januarie agter in die erf tussen gebrande rommel gevind.
Die polisie het vroeër die week op verskeie ander plekke in die area op beendere, wat vermoedelik die van Jansen is, afgekom.
George onderburgemeester, Daniël Maritz het gisteraand sy medelye met die familie betuig en die moord sterk veroordeel. “Dit is die werk van die duiwel, dit is nie die werk van die mens nie. Om misdaad op te los, is nie vir die regering nie, dis nie vir die polisie nie en dis nie vir u nie. Jesus is die oplossing, die kerk is die oplossing!,” het Maritz gesê.
Ds. Johan Louw van die VGK Pacaltsdorp het in sy boodskap gevra dat inwoners die Lydenstyd wat Woensdag begin het, moet gebruik om na te dink oor die prys wat Jesus vir hulle betaal het vir vrede en verlossing.
Nog ‘n raadslid en geestelike leier, Virgill Gericke het gesê die tyd het aangebreek vir die inwoners om hul gemeenskappe terugvat en “oorlog” te verklaar teen misdaad en dwelms. “Dis tyd om u wapens (God) op te tel. ”
Pastoor Allan Spies van die AGS Kerk het gesê “die feit van die saak is dat ons vrede onlosmaaklik is van die vrede in ons stad”. “Mense moet ophou van mekaar skinder want jy weet nooit wanneer misdaad en dwelmmisbruik aan jou deur kom klomp nie. Ons is geneig om te sê ek wil nie betrokke raak nie en dis nie my besigheid nie. Totwaar daardie selfde euwel aan jou vel raak. Dan skrik ons wakker wanneer daardie selfde situasie waaroor jy vroeër ‘n traak-my-nie-agtige-houding gehad het, op jou voorstoep is.”
Hy het gesê alle inwoners, ongeag geloof, velkleur of status, moet met praktiese voorstelle vorendag kom om probleme van misdaad en dwelmmisbruik aan te spreek en die gemeenskap terug te vat. Ons steun op strukture wat ons faal. Die gemeenskap moet die gemeenskap terugvat! Vat die dorp straat vir straat, buurt vir buurt,” het Spies gesê.
Die Pacaltsdorp-polisie het Vrydagoggend ses mense, waaronder Jansen se vrou, Charlene (52), in hegtenis geneem op 'n klag van moord nadat uitslae getoon het dat die bene wat tussen gebrande rommel gevind is, wel menslike beendere is. Sy en haar seun, Hadley Fourie en drie ander mans, Paul Jansen, Ricardo Prins en Gareth Gordon verskyn Maandag weer in die George-hof.
