Update
GEORGE NUUS - "Mamma, ons gaan ma baie mis. Ma was altyd so 'n sterk vrou. Niks kon ma onderkry nie." Dit was die woorde van Jessica Hapgood-Strickland, ná haar ma, Jo-Anne Lourens (57) se motor Dinsdagmiddag, 22 Maart, aan die voet van 'n krans op die Voëlklip-pad gevind is.
Lourens, 'n inwoner van Delvillepark, het Donderdag 17 Maart vermis geraak ná sy haar dogter se huis in Geelhoutboom omstreeks 12:00 die middag verlaat het. Haar dogter het geslaap toe sy gery het.
"Ek was baie moeg, want ek het die vorige aand na my ma omgesien. Ek het haar Woensdagaand by Voëlklip gaan haal en haar by my laat bly. Sy is vroeër Donderdagoggend huis toe, na haar man in Delvillepark.
"Sy het teruggekom en haar handsak met al haar persoonlike besittings, insluitend bankkaarte en ID, op my tafel gelos. My man het gesien hoe sy in die rigting van die lughawe wegry," het Hapgood-Strickland gesê.
Lourens se voertuig is omstreeks 16:00, deur die voorsitter van George-gemeenskapspolisiëringsforum, Rupert Pretorius, aan die voet van 'n krans gevind. Hy was deel van die soekgeselskap.
"Ná ek op die strand gesoek het, het ek opgegaan na die Voëlklip-area en verder daar gesoek waar ek sleepmerke en versteurde bosse by een van die kranse opgemerk het. Ek het 'n wit voorwerp, wat gelyk het soos 'n kar se deur, aan die onderkant van die krans op die rotse opgemerk en voortgegaan om teen die krans af te klim en meer en meer voertuigonderdele opgemerk," het Pretorius gesê.
Lourens se liggaam was steeds in die motor.
Pretorius het die polisie ontbied en Lourens se liggaam is Dinsdagaand herwin.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is 'n geregtelike doodsondersoek geopen en geen misdaad word vermoed nie.
In Februarie vanjaar het Conrad Maree (33) op dieselfde plek in sy bakkie afgestort. Dit is egter 'n ent van die uitkykpunt bekend as Hansie se Bank, waar Heidi Scheepers en haar twee kinders in Oktober 2019 in haar Kombi af is.
"My ma was so lief vir haar kleinkinders. Hulle gaan hul 'Nanna' so baie verlang. Ek, my broer JP, suster, Patricia, my ma se broer, Roy en haar susters Louise en Jean, ook. Maar my ma is in ‘n baie beter plek, sonder pyn. Ons is altyd lief vir ma. Tot ons mekaar weer sien mamma."
Lourens se voertuig is die negende voertuig wat sedert 2015 oor die krans gestort het. Brig. Phumzile Cetyana, waarnemende gebiedsbevelvoerder van die Tuinroete, en brig. Nolan Michaels op die toneel Dinsdagaand.
Pad is op privaat eiendom
George se munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag bevestig dat die betrokke grond in privaat besit is met jurisdiksie vir die grondpad wat onder provinsiale administrasie val.
Volgens die Wes-Kaapse hoof van kommunikasie vir die departement van vervoer en openbare werke, Jandré Bakker, het hulle tot dusver geen versoeke van die grondeienaar ontvang om die pad te sluit nie.
"Die versoek om die pad te sluit moet gerig word deur die eienaar oor wie se eiendom die pad loop waarna ons die aansoek vir so 'n sluiting sal oorweeg. Dit is duidelik dat die pad (infrastruktuur) nie die probleem is nie, maar bestuurdersgedrag. Verskeie maatreëls is reeds in plek gestel wat die pad selfs veiliger maak," sê Bakker.
Jo-Anne Lourens
Previous articles:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'