Video
GEORGE NUUS - Vir 'n tiener is enige verjaarsdag spesiaal, maar vir Krizelle Hattingh was haar 15de verjaarsdag verlede Woensdag, 22 Januarie, onvergeetlik.
Op dié dag het 'n groep plaaslike motorfietsryers opgedaag om haar liefde vir motorfietse te vier en haar dag ekstra spesiaal te maak.
Vir Krizelle en haar ouers, Diane en Kobus, was die dag nie net 'n viering van 'n nuwe lewensjaar nie, maar ook haar lewe self.
In 2021 het 'n ernstige rugbesering haar drome aan skerwe geslaan en haar internasionale gimnastiekloopbaan, sportdeelname, en passie vir motorfietsry moes alles op die agtergrond geplaas word.
"Sy het in 2018 gegly en geval en haar rug beseer, maar in 2021, tydens SA gimnastiekkampioenskappe het sy weer geval en haar stuitjie ernstig gebreek," sê Diane.
Ná 'n groot operasie in 2022 en 'n lang hersteltyd, waarin sy nie baie mag beweeg het nie, kon Krizelle weer soortvan funksioneer. Maar vroeg verlede jaar het haar lewe 'n nuwe wending geneem.
"Vroeg verlede jaar het sy sporadies begin flou raak," vertel haar ma.
"Ons het maande lank gebid en verskeie spesialiste besoek, maar niemand het antwoorde gehad nie. Na nege maande het ons uiteindelik 'n wonderlike dokter ontmoet wat ontdek het dat Krizelle 'n ekstra aar in haar hart het."
Krizelle is gediagnoseer met 'n potensieel lewensgevaarlike hartdefek, bekend as Patent Ductus Arteriosus (PDA), wat gelukkig deur 'n elektroniese prosedure reggestel kon word.
Vir dié tiener het dit beteken dat sy haar lewe teruggekry het. Stelselmatig het sy weer begin glimlag, speel en droom.
"Dit was die grootste geskenk wat ons as familie ooit van ons Skepper kon ontvang," sê Diane.
Motorfietse bly steeds een van Krizelle se grootste passies, en Diane glo vas dat sy binnekort haar eie motorfiets sal besit. Maar op haar verjaarsdag was sy nie net dankbaar vir die "awesome bikes" wat opgedaag het nie.
"My verjaarsdag was eenvoudig ongelooflik! Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Ek waardeer elke persoon wat die moeite gedoen het om daar te wees en met my te gesels," sê sy.
"Ek voel so geseënd om te weet dat daar steeds soveel mense is wat Jesus in hul hart dra en alles vir die regte redes doen."
Hoewel sy oorgeloop het van emosie, kon Krizelle nie ophou glimlag nie. "Maar 'n deel van my voel skuldig," erken sy sag.
"Dit was nie net ek wat deur hierdie moeilike tye gegaan het nie - my ouers het net so hard gebid, saam gehuil en saam gelag."
Maar Krizelle se doelwitte is nog ver van bereik en sy wil nou hoop aan ander bring. Sy beplan om projekte aan te pak om fondse in te samel vir kinders met PDA wat nie die finansiële vermoë het om hul prosedures te bekostig nie.
"Ek wil ander mense se hoop wees. Ek wil hê hulle moet glimlag, want daar is altyd hoop. My verjaarsdag het vir my gewys hoe groot liefde en geloof is – op daardie dag was die mense om my my hoop en my glimlag.
Krizelle en haar ma Diané.
Plaaslike verkeersbeamptes het die motor-fietsryers begelei. Van links is Franklin Windwaai, Aviwe Matiwane en Duwayne Joseph.
Kyk na 'n video van die verjaarsdagverrassing hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’