GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit is tans besig met 'n proses om die ruimtelike ontwikkelingsplan (GOP) vir George te finaliseer.
Publieke kommentaar moes gedurende Desember ingehandig word. Die GOP het wyd kommentaar ontlok.
Baie mense het die vrees uitgespreek dat die munisipaliteit oormatige verdigting wil toepas en ontwikkeling wil toelaat wat die dorp se karakter sal verander.
Een van hulle, dr. Andy Lamont (voorsitter van die George-erfenistrus), het in 'n brief, "Disregard for heritage in draft SDF", sy vrese hieroor uitgespreek.
Die munisipaliteit het in antwoord hierop verskeie stellings oor die erfenisinventaris van George gemaak, waarna die George Herald Natie de Swardt, 'n erfeniskenner van George, se mening gevra het.
Lees hier waarom hy meen erfenis is belangrik vir die plaaslike ekonomie:
Inwoners van George het baie stof tot dankbaarheid. Na elke reis deur ander provinsies, kom 'n mens met dankbaarheid terug na George.
Die dorp en streek se aantrekkingskrag is wyd bekend en groot getalle mense verhuis hierheen, maar, soos in die res van Suid-Afrika, is 'n groot deel van George se mense werkloos en hul omstandighede onbevredigend.
Daar bestaan groot eenstemmigheid dat toerisme 'n potensiële groeisektor is.
Dit is globaal bekend en statisties bewysbaar dat erfenis toeriste trek. In die VSA en Europa is honderde ou brouerye, fabrieke, smelterye, trem- en treinstasies her-aangewend en trek toeriste in groot getalle.
In die Wes-Kaap is die waterfront in Kaapstad en die Thesen-eilande van die beste voorbeelde daarvan.
Volgens wet moet plaaslike owerhede erfenisinventarisse opstel oor die erfenis in hul gebiede. Sulke inventarisse word deur die Inventarisse, Gradering en Interpretasie Komitee (IGICom) van Erfenis Wes-Kaap (EWK) beoordeel en, as dit aan basiese vereistes voldoen, in 'n erfenisregister vir die provinsie ingesluit. Wanneer plaaslike owerhede se ruimtelike ontwikkelingsplanne opgestel of gewysig word, moet dit in harmonie met die erfenisinventaris wees. George is met die ontwikkeling van 'n ruimtelike ontwikkelingsplan besig, maar die inventaris, wat 'n integrale onderdeel daarvan moet wees, is 'n katastrofe.
Die George-inventaris is so 'n lang en pynlike ervaring dat dit moeilik is om dit kortliks weer te gee. In bewaringskringe is dit al algemeen, as dit lyk asof 'n katastrofe aan die kom is, om te sê: " Net nie nog 'n George nie!"
Dit kom voor asof dinge ten opsigte van die inventaris begin skeef loop het toe George 'n tender met swak tendervoorwaardes en doelwitte uitgereik het. Dit het verder skeefgeloop met die aanwys van 'n maatskappy wat nie bekend was met George nie en wat gou bewys het onbevoeg te wees. Swak foto's van geboue, sommiges deur motorvensters en teen die son geneem, was kenmerkend van die eerste weergawe van die inventaris.
Slegs enkele minute is toegelaat vir die beoordeling en fotografering van die geboue; openbare geboue waarvan amptelike dokumentasie bestaan, soos die Laerskool Blanco, is beskryf as geboue van onbekende boudatum, en selfs geboue met datums duidelik op hulle aangedui, soos die Stella Maris-kerkie in Heroldsbaai, is beskryf as van onbekende boudatum. Verkeerde foto's is by verkeerde beskrywings aangebring, ens, ens. Kaarte was verwarrend en verbruikersonvriendelik en die metodiek van die inventaris was gebrekkig.
Dit is aan die IGICom van EWK voorgelê vir goedkeuring, wat dit simpatiek oorweeg maar as 'n onbruikbare warboel beoordeel het. Bekommerde inwoners van George is met motiverings en hulpaanbiedings na die munisipaliteit, maar is daarvan beskuldig dat hulle kop in een mus met EWK was!
In Aril 2015 het die George Herald reeds berig oor die afkeuring van die inventaris deur IGICom. Na verskeie onsuksesvolle pogings om dit in 'n aanvaarbare formaat te kry, het 'n lid van IGICom, 'n professor aan 'n Kaapse universiteit, goedgunstiglik ingetree om 'n mate van metodiek, rigting en betekenis daaraan te probeer gee.
Dit het nie veel gehelp nie. Sy ervaring het hom laat dink die ding gaan nooit regkom nie. Hy het aanbeveel dat die munisipaliteit toegelaat word om die inventaris voorlopig te gebruik as bykomstige bron - nie as enigste bron nie - maar dat dit dringend verbeter en uitgebrei moet word. EWK het dit so aan die munisipaliteit oorgedra. Die George-erfenistrust was bereid om te help met die verbetering en uitbreiding daarvan, maar het finansiële ondersteuning van die munisipaliteit benodig. Daar het niks van gekom nie en na etlike jare en groot uitgawes het George steeds geen ordentlike en bruikbare erfenisinventaris nie.
Dr Lamont is heeltemal reg in sy kommentaar. Die Stigting Simon van der Stel: Suid-Kaap ondersteun sy siening.
Dit is die beste om so min as moontlik te sê oor die munipaliteit se reaksie op dr. Lamont se skrywe. Dit toon 'n verbluffende onkunde van die wet en die drie-vlak bestuur van erfenishulpbronne in Suid-Afrika. Aanhalings uit die wet is nie binne konteks nie en daar is oënskynlik verwarring oor wat 'n inventaris en wat 'n register is. Hoewel die munispilteit se diensverskaffer telkemale probeer het om die duur-betaalde maar katastrofiese inventaris deur EWK te laat goedkeur, beweer die munisipaliteit nou skynbaar dat dit die provinsie se verantwoordelikheid is om 'n inventaris op te stel. Die munisipaliteit verwys in die verband na artikel 30(1) van die wet op Erfenishulpbronne van 1999. In artikel 30(5), as 'n mens 'n bietjie verder lees, word egter duidelik aangedui dat dit die plaaslike owerhede se verantwoordelikheid is. 'n Mens sou verwag dat 'n vakkundige regsmening deur die munisipaliteit verkry sou word vir die saamstel van 'n sinvolle reaksie. As hierdie antwoorde gegrond is op 'n munisipale regsmening, het ons rede tot kommer.
Die munisipaliteit impliseer dat die erfenisorganisasies van George traag was om insette te lewer ten opsigte van die ruimtelike ontwikkelingsprogram. Dit is nie waar nie. Die George-erfenistrust en die Simon van der Stel Stigting was verheug dat die munisipaliteit in Augustus 2017 tekens getoon het van uitreiking na die mense wat die erfenis van George ken en plaaslike erfenisorganisasies genooi het vir 'n voorlopige bespreking oor die ruimtelike ontwikkelingsplan. In 'n swak-gestruktureerde praatsessie het twee persone wat nie met George bekend is nie, gevra oor erfenisgebiede. Die twee erfenisorganisasies het insette gelewer en dit is rofweg op kaarte aangedui. Daar was absolute bereidwilligheid tot samewerking en baie welwillendheid van die kant van die erfenisorganisasies. Verdere navorsing sou gedoen word na aanleiding van ons insette en ons sou weer vergader. Dit was egter die laaste sien van die blikkantien: plaaslike erfenisorganisasies is nooit weer betrek voor die openbare vergaderings nie.
Die opstel van 'n erfenisinventaris vir George het lelik skeefgeloop. Dit skep nou 'n swak skakel en banadeel aansluitende aspekte van plaaslike bestuur. Dit is baie jammer.
(Natie de Swardt is lid van die IGICom en 'n raadslid van Erfenis Wes-Kaap, maar skryf hier in 'n persoonlike hoedanigheid.)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'