TUINROETE NUUS - Tjaart van der Walt is 'n kliniese sielkundige in die Tuinroete wat skryf oor slaap. Van der Walt laat val die soeklig op dié lewensbelangrike onderwerp in 'n reeks artikels, want niemand kan sonder slaap funksioneer nie.
Voordat daar verder gesels word oor probleme en/of interessanthede met betrekking tot slaap, is dit miskien goed om nou eers aandag te skenk aan wenke vir 'n goeie nagrus. Probeer om nie deur die dag te slaap nie, sodat jy moeg genoeg is om saans 'n groot uil kan knip.
Jou bed is nie bedoel vir lees, videospeletjies, werk of televisie kyk nie. Dit is uitsluitlik vir slaap. En seks indien jy nie die kreatiewe tipe is nie. Jou liggaam en brein moet weer die direkte assosiasie tussen bed en slaap aanleer.
Toestelle wat die tyd aandui moenie sigbaar wees nie aangesien dit tot bekommernis of moedeloosheid kan lei. Vermy alle kaffeïen in die eerste uur nadat jy wakker geword het asook ná 14:00. Maak seker jou kamer is pikdonker in die nag.
Plak ook alle liggies toe, soos dié by selfoonlaaiers, wekkers, alarmstelsels ensomeer. Sorg vir genoeg vars lug in die slaapkamer deur byvoorbeeld 'n venster oop te los. Kry daagliks oefening in. Vermy alkohol en nikotien. Moenie te laat in die aand eet nie. 'n Lekker warm bad of stort voor slaaptyd is 'n goeie idee – dit beveg die taaiheid tussen die lakens. Dieselfde roetine elke aand leer die brein dat slaap 'n natuurlike laaste uitvloeisel is.
So 'n vaste roetine sluit onder andere in die tyd vir eet, stort, lees en ligte-af. Staan ook elke oggend op dieselfde tyd op.
Vermy alle elektroniese skerms ná 19:00. Dit sluit jou selfoon, rekenaar en televisie in. Vir goeie slaap is dit baie beter om eerder te lees, of musiek of radio te luister.
Die blou lig van skerms stimuleer die wakkerword-hormone in die brein, selfs al word filters gebruik om dit te verminder. Om minder klere aan te hê en eerder meer komberse oor te gooi, is beter as om alles aan te trek wat jy besit met net 'n dun lakentjie oor jou.
Selfone moet onder die bed of in 'n laai gebêre word aangesien die onderbewuste die kleinste verandering in lig waarneem en jou uit jou diep nie-REM-slaap haal.
Indien jy erg snork en soms stik of ophou asemhaal, kan 'n moontlike slaapstudie met jou dokter bespreek word om vas te stel of 'n CPAP-masjien jou lugvloei kan stabiliseer vir voldoende suurstof. Jou oogmerk moet nooit wees om te probeer slaap nie. Jou doel moet wees om soveel en so diep as moontlik te ontspan.
Vele kundiges is in jou dorp beskikbaar om effektiewe asemhalings-, ontspannings- en verbeeldingstegnieke vir jou aan te leer. Boonop is die internet 'n poel van "volledige demonstrasies met verduidelikings". Maak seker jou kamer is nie te warm nie, aangesien jou liggaamstemperatuur met 1°C moet daal om aan die slaap te raak.
Te veel vloeistowwe voor slaaptyd gaan die hoeveelheid badkamerbesoeke verhoog en slaaptyd steel. 'n Uitstekende boereraat is om louwarm melk met peper te drink voor jy gaan slaap. En as jy aan iets móét peusel, is kaas 'n goeie idee.
Indien jy al bogenoemde wenke vir twee weke toegepas het sonder enige sukses, sal ek aanraai dat jy 'n kliniese sielkundige gaan sien wat meer gesofistikeerde pyle in sy of haar koker het.
Die moontlikheid van 'n melatonienvoorskrif kan met jou huisdokter bespreek word asook die moontlikheid van CBD-olie.
Die geneesheer kan dan ook enige onderliggende mediese probleme ondersoek asook die moontlike nadelige effekte van jou kroniese medikasie.
Nadat hierdie tweede linie van behandeling geen positiewe resultate opgelewer het nie, kan slaapmiddels oorweeg word. In die volgende artikel sal die effek van slaapmiddels in meer besonderhede bespreek word.
Daarna sal die leser verstaan waarom ek huiwerig is om dit as die eerste stap van behandeling aan te beveel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’