Video
GEORGE NUUS - Edward Langfred is gewoond daaraan om slange by hulle huis in Dellvillepark te vang, maar toe hy gister op ’n rinkhals in hulle erf afkom, het hy eerder die hulp van ’n slangvanger gekry wat hom veilig kom verwyder het.
“Ons kry gereeld verskillende tipe slange wat by die erf inseil van die veld hier naby. Dié wat nie so giftig is nie, vang ek self en dan sit ek hulle terug, so bietjie dieper in die veld in nader aan die N2.
"Hierdie een het na my gespoeg toe ek bietjie nader gaan om te kyk wat dit is, toe bel ek vir Slangboere.”
Langred sê wanneer dit baie warm is of daar was ’n brand, of as die munisipaliteit die veld kom sny, kan jy maar weet daar gaan slange wees.
“Die tipes wat ons al hier gekry het, is boomslang, pofadder en nagadder. Hierdie was die derde rinkhals.”
Devon de Villiers van Slangboere sê dis die eerste rinkhals in vier jaar wat hulle vang en hierdie spesifieke een is 'n gestreepte rinkhals.
In die warm weer is Slangboere erg besig en hulle word enigiets tussen 10 en 15 keer per dag uitgeroep.
Die slange word vrygelaat in privaat natuurreservate of op plase wat deur Kaapse Natuurbewaring goedgekeur is.
Meer inligting is beskikbaar op Slangboere se FB-blad.
VIDEO: Kyk hoe De Villiers die rinkhals aankeer en meer vertel.
'n Foto van 'n rinkhals verskaf deur Slangboere.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’