Wimpie (Willem Johannes) van der Merwe (53) en Stefanus Cornelius (SC) Ferreira (10), ‘n leerling van Cradock Voorbereidende Skool, het beswyk toe ‘n minibus-taxi Saterdagoggend net voor 06:30 van voor in die skoolbus, waarmee die plaaslike laerskool se spanne na Graaff-Reinet gereis het om rugby, hokkie en netbal te speel, ingeploeg het.
Van die 18 insittendes in die taxi het net drie die bloedbad oorleef.
Daar is aanvanklik berig dat 18 mense dood is in die ongeluk, maar Tshepo Machaea, Arrive Alive se woordvoerder, het gesê een persoon is twee keer getel.
Volgens Adjudant Offisier Cynthia Makamba, polisiewoordvoerder, het die ongeluk 17km buite Cradock op die N10 gebeur toe die taxi ‘n ander voertuig op ‘n blinde hoogte verbygesteek het en in die skoolbus vasgejaag het.
Die taxi se bestuurder was een van die persone wat nie die ongeluk oorleef het nie. Volgens Makamba, is sewe passasiers vanuit die minibus geslinger. Die res moes met die kake van die lewe verwyder word.
By Laerskool Cradock is daar, volgens Michael Lord, voorsitter van die skool se beheerraad, gister ‘n noodvergadering met verteenwoordigers van die onderwysdepartement gehou aangesien vier van die skool se senior onderwysers ernstige beserings in die ongeluk opgedoen het en na hospitale in Bloemfontein en Port Elizabeth oorgeplaas is vir noodoperasies.
Lord het gesê Van der Merwe se dood is ‘n groot verlies vir die skool. Hy het hom as hardwerkend en toegewyd beskryf en gesê dat vandat hy drie-en-‘n-half jaar gelede van Laerskool Ankervas naby Uitenhage Cradock toe gekom het, was hy bekend vir sy empatie met diè wat minderbevoorreg is. Hy was baie trots op die skool se o.13 rugbyspan wat hy self afgerig het en het hulle sy “Super Twaalf o.13-span” genoem.
‘n Baie geskokte en verslae Elsabè van der Merwe het gesê haar man sal altyd onthou word vir sy groot liefde vir treine en vertel dat hy self assistent treinbestuurder was voordat hy onderwys geswot het. Hy het in sy leeftyd meer as twintig rugby toere met belangstellendes na groot wedstryde onderneem en ook van die skool se kinders aan die genot van treinreis bekend gestel.
Die noodlot het Saterdagoggend vir klein SC Ferreira agtervolg deurdat hy, ‘n gr 3 leerling van die Voorbereidende Skool, vir die laerskool se rugbyspan sou uitdraf en ook omdat Van der Merwe - wat die bus bestuur het - hom genooi het om voor langs hom te kom sit toe hy naar gevoel het.
Volgens ooggetuies het Van der Merwe probeer om Ferreira teen seerkry te beskerm – maar dit was tevergeefs.
SC is die oudste seun van Jaco en Sandra Ferreira van die plaas Darlington in die distrik. Sy ma het hom as ‘n liefdevolle kind en absolute seën beskryf wat lief was vir sport en in die afgelope skoolvakansie sy eerste bok geskiet het. Sy skoolhoof, Elmar Heese het hom as “sò ‘n nice kind” beskryf.
Volgens Basil Joubert, hoof van ambulansdienste op Cradock was die ongelukstoneel Saterdagoggend een van die ergstes ooit wat hy in sy loopbaan as ambulansman beleef het.
Pogings is van gister reeds in Graaff-Reinet onderweg om die erg geskende liggame van die minibus se insittendes te probeer identifiseer. Hulle was van Kaapstad onderweg na Mthatha.
Meeste van die identifikasieproses sal egter môre afgehandel word wanneer familie en naasbestaandes - op 'n bus wat vir hulle deur 'n privaat vervoer maatskappy gereel is - vanaf Kaapstad na Graaff-Reinet gevat sal word. Die departement van Maatskaplike Ontwikkeling het maatskaplike werkers en beraders beskikbaar gestel om die oorledenes se geliefdes by te staan met die proses.
Van der Merwe word oorleef deur sy vrou, Elsabè, ‘n seun Luwaldo, en drie stiefkinders, Theo, Elsa en Charles Ferreira. SC word oorleef deur sy ouers en ‘n jonger boetie.
.jpg)
Die wrak van die taxi.
.jpg)
Die ongelukstoneel.
.jpg)
Die taxi het die skoolbus van voor getref.
SC Ferreira
Wyle Wimpie van der Merwe en sy vrou, Elsabé.
ARTIKEL: WILNA DE KLERK, GRAAF-REINET ADVERTISER & KAROO NEWS (SUSTERKOERANT VAN DIE GEORGE HERLD)