Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Wanneer die son warm bak hang die stank behoorlik oor Chopinstraat in Harmony Park. Informele varkhokke met meer as 100 varke in Mingo-kamp, soos dit bekendstaan, sorg vir 'n aktiewe vlieëplaag oor die snikhete somermaande.
Hierdie area is sowat 150 m van die naaste woonhuise.
Na wat verneem word, behoort die grond waar die varkhokke opgerig is aan 'n trust. 'n Handjie vol kleinboere van die omgewing het blykbaar vier jaar gelede met hul diere hierheen verhuis nadat hulle elders moes padgee. Hulle het glo 'n mondelingse ooreenkoms met die familie wat die grond besit.
Inwoners van Chopinstraat is egter keelvol vir die reuke wat hulle moet trotseer.
"Almal wat hier bly kla oor die reuke," het een inwoner gesê, wat verkies om anoniem te bly.
"In die somer spuit ons heeldag Doom, maar dit help nie eintlik nie."
Die betrokke inwoner het vir meer as 'n jaar via e-pos met George-munisipaliteit se omgewingsgesondheidsafdeling gekommunikeer.
'n Handjie vol kleinboere van die omgewing hou hul varke aan in 'n area wat as Mingo-kamp bekendstaan, sowat 150 m van woonhuise in Chopinstraat. Foto: Michelle Pienaar
Kleinboere
Kleinboere is op hul beurt weer moedeloos gesukkel vir 'n plek vir hul diere. Alfonso Thomas, beter bekend as Whaka, is raadop.
"Ek is 'n groentesmous, en moet my inkomste aanvul met die varkies," het hy gesê. "Ons moes weg by Europe ['n woonbuurt in Pacaltsdorp], en kom toe hierheen. Nou gaan ons seker weer moet trek. Ons vra net 'n stukkie grond vir ons diere."
Navrae is aan beide Tuinroete-distriks-munisipaliteit en George-munisipaliteit gestuur.
Volgens Sivuyile Mtila, senior bestuurder van omgewingsdienste by George-munisipaliteit, is die eiendom besoek en is die saak nog nie afgehandel nie.
Die distriksmunisipaliteit het bevestig dat 'n inspeksie wel uitgevoer is, en dat 'n gesondheidsrisiko geïdentifiseer is.
"'n Kennisgewing is aan die grondeienaar uitgereik, ooreenkomstig met die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se munisipale gesondheidsverordening," het Johan Compion, bestuurder vir munisipale gesondheid en omgewingsdienste, gesê.
"Opvolginspeksies sal geskied om seker te maak dat die bywet nagekom word. Die area sal ook gereeld gemonitor word, met roetine inspeksies om seker te maak dat gesondheidstandaarde gehandhaaf word."
'n Kennisgewing is aan die grondeienaar uitgereik, ooreenkomstig met die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se munisipale gesondheidsverordening.
Landelik vs residensieel
Een van die inwoners van Chopinstraat wat met George Herald gesels het, het egter laat blyk dat hulle nie tevrede is met slegs die monitering van die varkhokke nie. "Dit moet totaal verwyder word," het hy gesê.
"Die spesifieke stuk grond is nie gesoneer as landelik nie, maar as residensieel. Die grond grens wel aan die landelike gebied. Die hokke is eenvoudig te naby ons huise. Ons kan nie so leef nie."
Andersonville
Beeste wat vir die afgelope klompie jare in Seemeeustraat, Andersonville, aangehou is, is na vele klagtes verwyder. 'n Klaer het vroeër vandeesweek aan George Herald gesê hulle is net bly die probleem is opgelos. "Dit was hel om so te leef, maar ek is bly iets positief het nou gebeur. Ons hoop net die beeste kom nie terug nie."
Mtila het bevestig dat die eienaar die diere na 'n plaas geskuif het nadat George-munisipaliteit 'n ondersoek ingestel het.
Meld dit aan
Klagtes oor die aanhou van vee binne woongebiede kan ingedien word by George-munisipaliteit se departement vir omgewingsdienste by Meadestraat 82 of 044 802 2900.
"Elke geval sal beoordeel en aangespreek word in ooreenstemming met die toepaslike verordeninge en regulasies," het Mtila gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’