GEORGE NUUS - Sterk én sag. Die twee woorde gaan hand aan hand as beskrywing vir suster Charmaine Titus, die bestuurder van Rosemoor tehuis vir bejaardes in George.
Hierdie formidabele vrou het binne drie en 'n halwe jaar, sedert haar aanstelling op 1 Februarie 2021, 'n ommekeer in dié sentrum bewerkstellig.
Charmaine het 'n hart vir palliatiewe sorg en onkologie, wat spruit uit jare se ondervinding by Tygerberg-hospitaal se onkologie-eenheid in Kaapstad.
Kort na haar graduering aan UWK in die 90's het Charmaine vir 14 jaar saam met die hoof van dié afdeling, wyle prof. Ben Smit en sy span, gewerk. Na die draai van die eeu trek haar hart terug na George, haar tuisdorp, waar sy graag haar kinders wou grootmaak.
"Jy sien, ek is 'n kind van Conville, en het my pa, Tom Rowan, elke naweek help groente smous in die woonbuurte van George. Ek, my broers Sidwell Roman en wyle Theodore Roman, wat ek Boeta genoem het. Ons het so saam-saam die wa deur die drif getrek," het Charmaine vertel.
Dit is juis hul hegte familiebande wat haar weer nader aan haar tuisdorp getrek het. Hier was sy doenig as MIV- en TB-koördineerder vir primêre gesondheidsorg, George-subdistrik.
Die ontwikkeling en uitbreiding van die Thembalethu-kliniek se TB-afdeling is 'n projek waaroor sy trots voel.
In 2013 benut Charmaine 'n geleentheid om by die Tawam-hospitaal in Abu Dhabi, in hul palliatiewe sorgeenheid te verpleeg.
"Ek, my man Eben, en dogter Anja, het vir vyf jaar daar gewoon. Ons seun, Earl, was daardie eerste jaar in matriek by York High, en het eerder by my ouers gebly. Hy het vir ons kom kuier," het Charmaine gesê.
Met haar broer se dood in 2018 het die Titusse teruggetrek na George.
Haar werk by 'n tehuis vir bejaardes in Hartenbos het later gelei tot 'n pos by Rosemoor tehuis vir bejaardes, as suster in bevel. En soos hulle sê, die res is geskiedenis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’