GEORGE NUUS - Byna drie ton nie-bederfbare kos, asook water, is Saterdag 13 November by Pick n Pay PreCap in George ingesamel. Die inisiatief vorm deel van die nasionale, Power Tower Food Drive, waaraan nege van die land se provinsies deelgeneem het.
Volgens die Tuinroete se organiseerder van dié geleentheid, Adéle van Tonder, het verskeie titelhouers van Rolemodels Foundation in die Wes-Kaap en die Tuinroete saam met die organisasie, SA For Hope (voormalige Water Warriors), gewerk om dit moontlik te maak.
"Die 2,88 ton donasies van die Tuinroete gaan aan SA for Hope wat boere en hulle werkers in die droogtegeteisterde gebiede bystaan.
"Die volgende uitreik sal op 20 November in die Calitzdorp-gebied plaasvind, waar die droogte reeds sewe jaar lank voortduur. Boere in die area is raadop en het dringend water en kos nodig vir hulle gesinne, werkers en diere," sê Van Tonder.
Voer en kos soos sout, koek- en mieliemeel, gis, spaghetti, rys, kookolie, suiker en koffie word benodig.
Volgens 'n boodskap van die boere in die Calitzdorp-gebied aan SA for Hope, is hulle afhanklik van die Stompdriftdam vir leiwater op die lande.
"Sowat drie maande gelede het dit onlangs 30 mm binne twee weke gereën en die veld het 'n hupstoot gekry, maar dit is nie genoeg nie. Intussen is die boere hande in die hare omdat hulle moet oorleef," sê Van Tonder.
Sommige van die gesinne in dié gebied is sonder elektrisiteit omdat hulle nie hul rekenings kan betaal nie en van hulle het reeds werktuie, meubels en die bietjie diere wat oor was, verkoop.
Van Tonder vertel dat daar ook ouers is, met skoolgaande kinders, wat nie geld het vir brandstof om die kinders skool toe te neem nie.
Skoolgelde is ook uitstaande. Plase word noodgedwonge op veilings verkoop en werkers word afgelê omdat boere nie meer salarisse kan bekostig nie.
Besoek SA for Hope se Facebook-blad vir meer inligting rakende die inisiatief.
Mariette Griebenhauw en Pieter van Tonder besig om kos vir die boere in nood te laai.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'