GEORGE NUUS - Vriendskappe kan gevorm word onder enige omstandighede waar daar gedeelde ervaring of belangstelling is. Vir 'n groep van 10 vroue wat in die Loeriepark-omgewing werk, was hul daaglikse busrit werk toe die begin van 'n hegte verbintenis.
Die vroue ry elkeen per bus uit hul onderskeie woonbuurte - Rygerpark, Conville, Rosemoor, Thembalethu en New Dawnpark - na die Go George-vervoerkern in die middedorp.
Daar, vir die afgelope vyf jaar al, klim die 'Loerie Ladies', soos hulle hulself gedoop het, elke weeksoggend om 06:45 saam op die Loeriepark-bussie. In Loeriepark klim hulle op verskillende punte af, maar die heelpad soontoe word lustig gesels oor alles en nog wat.
'n Lid van die groep, Jenny Stuurman vertel: "Ons staan eintlik bekend as die mal groep, want ons praat oor enigiets. Dis 'n klein bussie en wanneer ons drywer gemaklik is, gesels hy saam.
"Ons praat nie oor werk nie. Ons los werk by die werk. Almal van ons is ma's of oumas en ons gesels natuurlik oor kinders, of as iemand hartseer is, ondersteun en vertroos ons.
"Op 'n Maandag deel ons baie keer die Woord met mekaar wat ons Sondag in die kerk gekry het."
Die groep maak ook tyd om kuiers te reël waar hulle dan éérs lekker gesels.
Vir hul jaarafskeid het die vroue by Texas Grill bymekaargekom en elkeen het haar Loerie Ladies-T-hemp gedra wat Laetitia Matholla se werkgewer, Christa Nel, spesiaal vir hulle laat druk het, 'n mooi simbool van vriendskapsbande wat hul lewens verryk.
By die vervoerkern waar die vroue soggens die Loeriepark-bussie vang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’