GEORGE-NUUS - Die Koert-gesin wie se woning in Blanco verlede Sondag afgebrand het, is dankbaar om hulp van verskeie rolspelers ontvang.
Daar was sewe mense ten tye van die brand in die huis wat ontstaan het toe ‘n kers omgewaai en ‘n gordyn laat vlamvat het.
"Ek het op die kooi gejump en my pa wakker geklap," verduidelik klein Marius Koert (7).
Sy 16-jarige sussie, Nicolene het ook wakker geskrik en die vlamme bokant haar kop gesien. Daarna was dit chaos soos almal by die agterdeur probeer uitbondel het, terwyl die 11-jarige Adriaan by die voordeur ontsnap het. "Dit was baie deurmekaar," beduie hy.
Twee polisiemanne, ao. André Bernardo en reservis-sers. Wayne van Wyk het die plek in ligte laaie sien opgaan en probeer help.
"Die vlamme en rook het baie hoog gestaan, en ons het probeer uitvind of almal buite was. Hulle het ja gesê, maar ek het bly onrustig voel en binne die huis gaan probeer kyk," vertel Bernardo.
Weens die erge rook kon hy nie iets sien nie en het met sy hand op die beddens gevoel.
"Ek het ‘n tweede keer teruggebeur. Hierdie keer het ek gevoel daar lê nog iemand langs die bed op die vloer."
Die man, wat glo te beskonke was om te besef wat aangaan, is van ‘n gewisse dood gered.
"Gelukkig het hy nie baie rook ingeasem nie, omdat hy plat op die vloer gelê het."
Mev. Anna Koert sê dis die tweede keer wat hulle alles in ‘n brand verloor. Sy is haar naaldwerkmasjien en haar omkapmasien, hul rekenaar, stoof, mikrogolfoond, vrieskas, hangkaste en beddens kwyt.
"Ons kon niks red nie, want dit het so vinnig afgebrand. Die wind het deur al die gate gewaai," vertel sy.
Klein Marius het kordaat laat hoor: "Ek en my pa het niks gehuil nie."
Die brand is uiteindelik deur die brandweer geblus, maar hul huis en besittings het in puin gelê.
Maandag het die munisipaliteit vir hulle ‘n tydelike woning opgerig en die polisie in samewerking met die traumakamer van George SAPD en Eden Lions het vir hulle huisraad en matrasse gereël.
Ses matrasse is deur mnr. David Meyer van The Bed Shop bewillig. Alison, na wie die traumakamer vernoem is, het ook Dinsdag vir die kinders skryfbehoeftes vir skool geneem.
Artikel en foto: Anoeschka von Meck