GEORGE NUUS - Die agste Herfs-bonsaifees van die Katrivier Kai-bonsaiklub, was weereens 'n heerlike ervaring vir almal wat dit bygewoon het én 'n hoogtepunt op entoesiaste se kalender.
Die geleentheid is in Mei by die George Garden Centre aangebied. Mense van oor die Suid-Kaap en so ver as Kaapstad het dit bygewoon om deel te wees van 'n propvol, interessante en leersame program.
Nege aanbieders het 'n wye verskeidenheid van onderwerpe aangespreek en demonstrasies gehou met 'n deurlopende Afrika-tema wat gewys het dat die unieke spesies op ons vasteland in fassinerende bonsais omskep kan word.
Willem Pretorius, die visepresident van die Afrika-bonsaivereniging, is 'n getroue ondersteuner van die fees. Hy het gesê dis 'n uitstekende tradisie wat Katrivier Kai begin het.
"Ek woon die fees by sedert dit die eerste keer gehou is en is verstom oor hoe hulle elke jaar dit regkry om nuwe aanbieders en voorleggings van oor die hele land te kry. Elke jaar is ek opnuut beïndruk deur die gehalte van die uitstalling en die deelname van kunstenaars van heinde en ver."
Volgens Pretorius, dien dit geen doel om maar net die Ooste na te boots nie.
"In Japan en China word ons gerespekteer juis omdat ons die besonderse kunsvorm 'n eie plaaslike identiteit gegee het."
Die aanbieders was Tobie Kleynhans, Erika Kohler, Tola Smit, Neville Wilkins, Amanda de Beer, Willem Pretorius, André Swart, Dawn Coller en Hennie Nel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’