GEORGE NUUS - Spanning binne die VGK Blanco-gemeente het die afgelope week tot kookpunt gestyg ná verskeie omstrede voorvalle, insluitend die ontdekking van sakke vol geld, ontwrigting van 'n Sondagdiens, en uiteindelik polisie-ingryping.
Die onrus spruit glo uit 'n lang stryd tussen lidmate van wyk 22 en die kerkraad oor die hantering van fondse en 'n vermeende gebrek aan aanspreeklikheid in die leierskap.
Reeds in September 2024 het die groep 'n formele brief aan die kerkraad gestuur waarin hulle antwoorde en groter deursigtigheid geëis het. Hulle het ook versoek dat 'n vergadering met die predikant en kerkraad gehou word.
Daar word beweer dat die kerk ook honderde duisende rande aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) skuld.
Die saak is later aan die Regskommissie van die VGK-streeksinode voorgelê, maar die kommissie het aangedui dat hulle slegs kan optree indien die kerkraad self 'n formele versoek daartoe rig.
Tot op hede het die kerkraad glo nog nie so 'n versoek gerig nie, en vergaderings tussen die raad en die groep lidmate het geen oplossings opgelewer nie.
Sakke vol geld ontdek
Die spanning het op Sondag 6 Julie 'n hoogtepunt bereik toe 'n groep lidmate tydens die oggenddiens opgestaan en openlike antwoorde geëis het. Dit volg op die ongewone ontdekking van twee swart sakke vol geld op die kerk se perseel die voorafgaande week.
Volgens ingeligtes is twee sakke op Maandag 30 Junie onder die verhoog in die kerksaal gevind toe skoonmaakwerk beplan is. 'n Kerkamptenaar het glo die sakke met geld verwyder, maar een van die sakke het buite gebreek en muntstukke het oral geval. Hy het weggehardloop en die tweede sak gaan wegsteek.
Die tweede sak is vroeg Woensdagoggend, 2 Julie, in die kategese sentrum opgespoor toe die alarm afgegaan het.
Lede van die kerkraad en sekuriteit het ondersoek ingestel, maar niemand is op die perseel gevind nie.
Die geheimsinnige geld het verdere wantroue aangevuur, en op Donderdag 3 Julie het die groep lidmate die kerkperseel beset terwyl hulle antwoorde geëis het. Die situasie het vinnig ontaard, en die polisie moes ontbied word.
Hoewel dié joernalis dieselfde middag na die perseel ontbied is, wou niemand op rekord kommentaar lewer nie.
Die betrokke amptenaar is intussen geskors hangende 'n ondersoek na die oorsprong van die geld, en formele klagtes is glo by die polisie ingedien.
George Herald het die betrokke lid vir kommentaar genader, maar hy het aangedui dat hy nie met die media wil gesels nie. Pogings om ander lede van die kerkraad en gemeente vir kommentaar te kry, was ook onsuksesvol.
Intussen wag die VGK Blanco-gemeente, en veral lidmate van wyk 22, gespanne op die volgende stap van die kerkraad en die Ring in 'n krisis wat die vertroue binne die gemeente geraak het.
'n Navraag is aan die polisie gestuur, maar teen druktyd is daar nog geen terugvoer ontvang nie.
Saak word intern hanteer
Ds. Charlton Crowley, konsulent van VGK Blanco, het bevestig dat die saak intern volgens die kerkorde hanteer word. "Die sake waarna u verwys word tans binne die kerkverband hanteer, volgens die prosedures soos bepaal deur ons kerkorde," het hy gesê.
"As konsulent van die gemeente is ek by die proses betrokke, maar dis belangrik dat ons die regte kanale en interne prosesse respekteer."
Hy het bygevoeg dat hy op hierdie stadium geen verdere kommentaar wil lewer nie.
"Sodra daar 'n amptelike besluit deur die Eerwaarde Kerkraad van Blanco geneem is of 'n verklaring uitgereik word, sal dit graag met u gedeel word," sê Crowley.
Intussen het die kerkraad nuwe amptenare aangestel om die kerk se take te koördineer en te bestuur.
Daar is ook 'n groep van 13 lede uit die sogenaamde "ontevrede" groep gekies wat, saam met lede van die kerkraad, na oplossings met die SAID sal soek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’