Gallery
GEORGE NUUS - Soos elke jaar sedert 2003 is die bejaardes van Golden Valley in Blanco kort voor Kersfees met 'n lekker ete bederf.
"Ek en my ma, Sabiena van Tonder, het saam die etes in 2003 begin. Ná sy in 2012 oorlede is, het ek daarmee voortgegaan.
Almal in die gemeenskap was baie lief vir my mammie. Hulle het haar ook mammie genoem omdat sy so diep in almal se harte gekruip het. Haar huis het altyd vir almal oopgestaan en sy het niemand weggewys nie," vertel Jenny Mattys, 'n gemeenskapslid en die huidige organiseerder van die etes.
"Hierdie jaar was hier eintlik min mense. Hulle raak elke jaar minder soos hulle tot sterfte kom. Die eerste keer was hier amper 300 mense. Ons het destyds eers begin om vir die kinders sop uit te deel en toe begin ons na die bejaardes ook omsien," sê Jenny.
Sy bied elke jaar die ete gratis aan en betaal uit haar eie sak vir al die bestanddele.
Vanjaar het sy ook 10 minute afgestaan om die oumensies wat nie meer hier is nie, te onthou. Zettie Coetzee het 'n boodskap uit die Byble gelees en Pat en Johnny van Eden FM se Party Time with Pat and Johnny, het die bywoners moed ingepraat en 'n paar staaltjies vertel.
"Ek sal dit elke jaar doen, want ek weet nie of ek volgende jaar nog hier gaan wees nie," sê Jenny. Selfs tydens die inperking het sy dit reggekry om kospakkies aan die bejaardes uit te deel en elke jaar sit sy ‘n glimlag op die bejaardes se gesigte – al is dit net vir ‘n paar ure lank.
FOTOGALERY: Bejaardes van Golden Valley geniet Kersfees-ete
Jenny Mattys (links) en Zettie Coetzee (middel) saam met die span in die kombuis wat die kos voorberei het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'