GEORGE NUUS - Een van George-munisipaliteit se blink jong sterre by verkeersdienste, Natanael Billy, oftewel "Billy", het die toets geslaag om as provinsiale verkeersbeampte opgelei te word.
Billy (28) het in Augustus verlede jaar as 'n puntdiensbeampte van die Uitgebreide Openbare Werke Program (EPWP) op kontrakbasis vir een jaar by George-munisipaliteit begin werk.
Hy is in Desember laat weet dat hy sy eksamen geslaag het en vertrek eerskomende Sondag, 30 Januarie, na die Gene Louw-verkeersopleidingskollege in Brackenfell, Kaapstad vir 'n jaar se opleiding.
Hy was een van vier suksesvolle aansoekers uit 'n totaal van 18 aansoeke vanuit die Tuinroete-distrik en die enigste suksesvolle kandidaat van George-munisipaliteit.
Billy het altyd geweet hy wil 'n verkeersbeampte word, maar kon weens omstandighede nie sy droom verwesenlik nie. Hy het na matriek onder meer drie keer aansoek gedoen as verkeersbeampte, maar elke keer was hy onsuksesvol.
Hy het onder meer vir 'n koeriermaatskappy en 'n bestuurskool gewerk. Billy reken sy werk by die bestuurskool het hom voorberei vir sy huidige en toekomstige werk.
"Ek wou nog altyd my gemeenskap dien en om puntdiens te doen om mense oor strate te help, die verkeer te laat vloei indien verkeersligte nie werk nie, is alles tot diens van die gemeenskap. Ek het by die bestuurskool kode 8, 10 en 14 aangebied en het altyd my kliënte op hul gemak laat voel. Baie van hulle moet hoor dat God hulle lief het," het Billy gesê.
Hy noem spesifiek die naam van plaaslike verkeersbeampte, Edwin Felix, van George-verkeersdienste, wat hom gemotiveer het om sy droom na te volg en dit nie eens geweet het nie.
"As ek sake vir die bestuurskool by die George-verkeersdienste kom doen het, het mnr. Felix my aangespreek as kollega. Dit het my as jongman soveel moed gegee om my droom na te streef en ek het in die geloof as Christen altyd in die gebou ingestap asof ek reeds ‘n verkeersbeampte is," vertel Billy.
Billy is ‘n pastoorskind en sy pa het hom geleer van die seisoene in 'n mens se lewe. Hy het sy vaste werk by die bestuurskool bedank, want hy het geweet ‘n nuwe seisoen moes begin. Hy het toe sy kontrak by die EPWP-kantoor gekry en minder as ses maande later is sy droom verwesenlik.
Natanael Billy
Hy het ongelukkig sy ma in 2017 aan die dood afgestaan en 10 maande later sy pa.
Hy en sy broers en susters bly in hul ouerhuis. "Dit was baie moeilik. Ons het nie net ons ouers verloor nie, maar ook ons geestelike ouers," het Billy gesê. Sy familie is baie trots op hom, omdat hulle weet hoe graag hy hierdie droom van hom wou verwesenlik.
Billy se boodskap aan jongmense: "Moet nooit ophou nie, dit is nooit te laat nie. Die woorde waarvolgens ek leef is dissipline, houding en verpligting. Verpligting teenoor jou dissipline en verpligting teenoor jou houding. Hou by hierdie woorde en niks sal in jou pad staan om te bereik wat jy wil nie."
Volgens Vernon Petersen, waarnemende verkeershoof, het Billy sy werk as puntdiensbeampte met oorgawe gedoen. Die padveiligheid van skoolleerders lê Billy na aan die hart.
"Ek het hom deurentyd aangemoedig om sy droom na te streef en is so trots op hom dat hy uiteindelik suksesvol is," het Petersen gesê. "Sy opleiding as verkeersbeampte begin 1 Februarie 2022 en ek wil hom sterkte toewens en vertrou dat hy George se naam altyd hoog sal hou."
Natanael Billy
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'