GEORGE NUUS - Okkie Stander, kultuurhistorikus van George, skryf dit is noodsaaklik om die ou geboue van George te bewaar.
Hier is die eerste van 'n kort reeks oor dié onderwerp.
In elke dorp in Suid-Afrika is daar geboue wat uit die vorige eeu dateer. Die argitektuur van die geboue verteenwoordig 'n spesifieke styl en saam daarmee verteenwoordig dit 'n spesifieke deel van ons land se geskiedenis maar meer spesifiek, die leefwêreld van 'n spesifieke streek.
Dit is noodsaaklik dat 'n gemeenskap kennis moet neem van die geboue wat bewaar moet word. Ons eie dorp spog met heelparty geboue wat bewarenswaardig is, maar ongelukkig is van hulle besig om te verval.
In Pacaltsdorp is daar geboue wat ten alle koste bewaar behoort te word, want hulle verteenwoordig die leefwyse van inwoners uit 'n vorige tyd.
Die bewaring van geboue of ander argitektoniese skatte vind ook in ander dele van die wêreld plaas. In die Oekraïne bewaar die inwoners van die stad Lviv hulle standbeelde met 'n passie teen skrapnel tydens die huidige oorlog (sien meegaande foto's).
Klassifikasie
Die geboue in George kan in 'n paar afdelings geklassifiseer word, naamlik woonhuise, staatsgeboue, geboue met finansiële waarde, gees-telike ruimtes, en geboue wat reeds gesloop is. Hulle verteenwoordig die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl. In kort is dit geboue wat tussen 1902 en 1950 gebou is en wat gewels manifesteer.
Toe die bosbouershuis by Witfontein in 1914 in die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl gebou is, het die bouers sandsteen vanaf Mosselbaai daarvoor aangery.
Herbert Baker
Om die geboue binne konteks te plaas, is dit nodig om van die stylkenmerke kennis te neem. Die persoon wat die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl in Suid-Afrika ontwikkel het, is Herbert Baker. Hy kan beskou word as een van die toonaangewende argitekte wat aan die begin van die 20ste eeu in Suid-Afrika gewerk het.
Hy is in 1862 in Engeland gebore en het sy opleiding as argitek by die Argitekte Assosiasie en die Royal Academy Schools ontvang. Hy is beïnvloed deur die Arts and Crafts-beweging van William Morris. Hierdie gilde het die gebruik van natuurlike materiale soos hout, yster en klip voorgestaan.
Hy is ook verder beïnvloed deur sir Edwin Luytens en die landskapskunstenaar Gertrude Jekyll. Laasgenoemde het hom geleer om die belangrikheid van harmonie tussen tuine en argitektuur raak te sien. Hierdie wisselwerking kan baie duidelik in sy ontwerpe van die Uniegebou in Pretoria en die woning Noordhoekhuis, naby Kaapstad, waargeneem word.
Inwoners van die stad Lviv in die Oekraïne beskerm hulle standbeelde teen skrapnel tydens die huidige oorlog.
Koms na Suid-Afrika
Met die koms van Baker na Suid-Afrika in 1892 het hy argitektuur in Suid-Afrika as 'n kuns en professie gevestig. Baker het daarin geslaag om hierdie behoefte te vervul, omdat hy die artistieke aanvoeling, karaktereienskappe van 'n pionier, ideale en aanpasbaarheid gehad het.
Hierdie eienskappe het hom gehelp om die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl in Suid-Afrika te vestig. Die styl is deur baie van Baker se kollegas en assistente tot in die 1950's laat voortleef.
Vanaf 1910 is die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl ook vir amptelike wonings soos byvoorbeeld vir ambassadeurs van Suid-Afrika in die buiteland en vir die administrateurs gebruik.
Met verloop van tyd het die meeste staatsgeboue soos poskantore, stasiegeboue, hospitale, skole en skoolkoshuise, banke en ook doodgewone woonhuise met gewels gebou.
'n Ander toevoeging tot hierdie boustyl was die sinkdak bo-oor 'n stoep wat deur betonpilare gesteun is. Die behoefte aan 'n meer skaduryke buiteruimte het ter plaatse ontstaan omdat Suid-Afrika se klimaat soveel feller is as dié in Europa. (Sien foto van 'n voorbeeld hiernaas.)
Die Herlewingstyl het ook gemani-festeer in die meeste staatsgeboue soos poskantore, stasiegeboue, hospitale, skole en skoolkoshuise, banke en ook by doodgewone woonhuise.
In die Oekraïne bewaar die inwoners van die stad Lviv hulle standbeelde met 'n passie teen skrapnel tydens die huidige oorlog.
Baker het 'n groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse boukunde deur sover moontlik slegs materiaal te gebruik wat in Suid-Afrika vervaardig is. Vir hom moes argitektuur inheems wees.
Argitektuur moet teruggevoer kan word na die oorsprong van die natuurlike bronne. Pragtige voorbeelde hiervan is die baie sandsteengeboue in ons buurdorpe Oudtshoorn, Calitzdorp en Mossel-baai. Toe die bosbouershuis te Witfontein naby George in 1914 in die Kaaps-Hollandse Herlewingstyl gebou is, het die bouers sandsteen vanaf Mosselbaai daarvoor aangery.
Die gewel van die bosbouershuis by Witfontein naby George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'