GEORGE NUUS - Huldeblyke het vandeesweek ingestroom vir die fenomenale sportfotograaf Thys Lombard (61), wat oorlede is tydens die Vintners Surf Classic in Jongensfontein.
Lombard, 'n oudonderwyser by Hoërskool Outeniqua (Kwaggas), 'n internasionale bemarkingsbestuurder by die Oldenburg-landgoed in Stellenbosch en 'n bekende fotograaf in skolerugbykringe, is Vrydagmiddag, 14 Augustus, tydens die branderplankkompetisie oorlede.
Volgens inligting het Lombard bewusteloos geraak terwyl hy aan die kompetisie deelgeneem het.
Die NSRI is dadelik gebel, en teen die tyd dat die nooddienste opgedaag het, het mede-branderplankryers Lombard reeds uit die water gehaal en was besig om mond-tot-mond-asemhaling toe te pas.
Ondanks uitgebreide pogings kon Lombard se lewe nie gered word nie.
Hy laat 'n besonderse nalatenskap in Suid-Afrikaanse sport, veral skolerugby, na. As sportfotograaf het sy kamera oor dekades heen duisende jong rugbyspelers se loopbane gedokumenteer.
Onder andere spelers wat later die groen en goud sou dra.
Vir baie in die Suid-Kaap was Lombard se liefde vir die see egter net so kenmerkend soos sy liefde vir rugby en fotografie. Volgens Chris Hattingh, Kwaggas se adjunkhoof, was Lombard van 1991 tot 1995 as rekeningkunde-onderwyser aan die skool verbonde.
Hy het ook in Beyers Tehuis-koshuis gewoon en as diensdoenende onderwyser opgetree.
Hoewel Lombard se nalatenskap omvangryk is, was dit die mense wie se lewens hy aangeraak het wat dit ná sy dood die diepste gevoel het.
Hy laat 'n groot vriendekring agter, met talle vriende en kennisse wat hul ongeloof en hartseer oor sy skielike heengaan uitgespreek het. Onder hulle is Marco Botha, rugbyjoernalis, skrywer en sportkommentator.
Botha, 'n oud-Oakdaler en kind van George, het sy gedagtes op sosiale media gedeel.
"Koebaai, Thysie," het Botha geskryf. "Jou gees was sag, jou hart groot, en jou gawe die vaslê van herinneringe.
"Ek wou jou Vrydagoggend bel om te hoor of jy nie agtermiddag ons Old Boys-wedstryd in die Agter-Paarl wil kom afneem nie, maar toe reken ek dis darem 'n onredelike laat versoek," het hy geskryf.
"Wens ek nou ek was 'n bietjie minder ordentlik, want jy sou ja gesê het, en dan kon ons darem nog 'n paar woorde gesels het."
Werner Rall, wat Lombard as jong leerling by Kwaggas geken het, het op Facebook 'n roerende huldeblyk aan sy voormalige onderwyser gedeel.
Rall het vertel dat Lombard in sy matriekjaar as nuwe onderwyser by die skool aangesluit het.
"Ek het baie middae saam met hom Vic Bay toe gery om te gaan surf," het Rall geskryf. "Vir 'n koshuisseun was dit 'n wegbreek soos min. Ons was so na aan vriende as wat 'n onderwyser en leerder kon kom en het 'n passie vir avontuur gedeel."
Die dag ná sy dood, het branderplankryers by Stilbaai-Wes-strand byeengekom om op hul eie manier van hom afskeid te neem. Met hul branderplanke het hulle die water ingevaar en, wat hulle noem 'n paddle out, ter nagedagtenis aan Lombard gehou.
Vir dié wat hom geken het, laat Lombard 'n leemte, maar sy foto's, stories en die duisende herinneringe wat hy vir ander vasgevang het, sal voortleef.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’