GEORGE NUUS - Die George-brandweer was vinnig op die toneel om ‘n brand te blus wat op Maandag 11 November naby die George-lughawe op 'n sleepwa agteraan ‘n vragmotor ontstaan het.
Die oorsaak van die brand is nog nie bevestig nie, maar dit was vermoedelik batterye wat vlam gevat het.
Die brandweer is om 19:01 geskakel en was teen 19:10 op die toneel. Dit het hulle sowat 20 minute geneem om die brand onder beheer te kry.
Geen beserings is aangemeld nie.
George Vlok, wat ‘n passasier in die vragmotor was, sê hy het agtergekom daar is ‘n brand toe hy rook in die truspieëltjie sien.
“Ek het net gesien daar is vlamme wat nader aan die trok kom, toe sê ek vir die drywer ons moet die agterste sleepwa afhaak sodat die res van die trok nie beskadig word nie,” sê Vlok.
Ten spyte van die skroeiende hitte kon die drywer die agterste sleepwa ontsluit en hulle kon die vragmotor weg van die vlamme trek.
Vlok sê hulle kon hoor hoe die batterye die een na die ander klap as gevolg van die hitte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’