Update
GEORGE NEWS - Die babaseun wat op Vrydag 23 Mei by die Kekkel en Kraai-speelskool oorlede is, is aan natuurlike oorsake dood.
Dit is deur die hoof van die speelgroep, Jacoline Muller, bevestig nadat hulle die uitslag van die nadoodse ondersoek ontvang het.
George Herald het vroeër berig dat die baba die voorafgaande twee weke voor sy dood ongesteld was en na die speelgroep teruggekeer het terwyl hy steeds tekens van swak gesondheid getoon het. Die baba was wakker toe 'n versorger hom met sy bottel neergelê het, maar hy het egter nie gedrink nie.
Volgens inligting wat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) ontvang het, was die versorger teenwoordig tydens die baba se dood en is die ouers dadelik in kennis gestel nadat die nooddienste gekontak is.
Die WKOD en Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het verlede week by navraag gesê dat hulle nie die jurisdiksie het om die uitslag van die nadoodse ondersoek bekend te maak nie en die forensiese patologie-afdeling het gesê dat hulle sulke inligting slegs aan die polisie mag bekendmaak.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is geen saak in verband met die baba se dood aangemeld nie en is geen inligting in verband met die aangeleentheid beskikbaar nie.
Vorige artikel: Babaseun sterf by Créche
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’