GEORGE NUUS - 'n Babaseuntjie is op Vrydagoggend, 23 Mei, omstreeks 10:15 by die Kekkel en Kraai-speelgroep in Borcherds oorlede.
Die hoof van die speelgroep, Jacoline Muller, het die dood van die kleintjie bevestig, maar gesê hulle kan tans nie enige verdere besonderhede verskaf nie. 'n Mediese ondersoek na die oorsaak van dood word gedoen en hulle wag vir die uitslag.
Bronagh Hammond, direkteur van die Wes-Kaapse onderwysdepartement se kommunikasieafdeling, het die baba se dood bevestig.
Volgens George Herald se inligting was die baba een jaar oud, maar die departement het nie die ouderdom bevestig nie.
"Die oorsaak van dood is tans onbekend aan die departement en ons wag vir 'n amptelike mediese verslag. Ons betuig ons innige simpatie met die familie," het Hammond gesê.
Die speelgroep is by die departement geregistreer, maar volgens Hammond funksioneer hulle as 'n onafhanklike organisasie.
"Die onafhanklike crèche het gerapporteer dat die baba die voorafgaande twee weke ongesteld was en na die crèche teruggekeer het terwyl hy steeds tekens van swak gesondheid getoon het."
Hammond het gesê volgens die speelskool was die baba wakker toe die versorger hom met sy bottel neergelê het, maar hy het egter nie gedrink nie.
Gevra of 'n personeellid teenwoordig was ten tyde van sy dood het Hammond gesê: "Die versorger was na bewering teenwoordig en die ouers is dadelik in kennis gestel nadat die nooddienste gekontak is. Die prinsipaal het gereël dat die ma gehaal en na die fasiliteit gebring word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’