GEORGE NUUS - Arbeidsbediening Tuinroete gaan weereens plaaslike sakeleiers byeenbring tydens sy jaarlikse besigheidsontbyt vir entrepreneurs wat op Donderdag 16 Oktober by Victoria Heights Bed en Ontbyt plaasvind.
Vanjaar se gasspreker is Jaco Leeuwner, streekbestuurder van Arbeidsbediening Wes-Kaap. Sy tema is relevant tot die huidige era: 'Die rol van kunsmatige intelligensie (KI) in 'n veranderende markplek'.
"Met KI wat bedrywe wêreldwyd transformeer, beloof die toespraak om betekenisvolle gesprekke onder sakelui en profes-sionele persone, wat gereed is om nuwe uitdagings en geleenthede aan te pak, aan te wakker," sê ds. Floors Meyer, voorsitter van Arbeidsbediening in die Tuinroete.
Die oggend bied nie net 'n insiggewende sessie nie, maar sal ook 'n waardevolle netwerkgeleentheid vir entrepreneurs en belanghebbendes in die Tuinroete wees.
Deelnemers sal die kans hê om insigte te deel en te besin oor die kruising tussen tegnologie, besigheid en gemeenskap.
Die geleentheid begin om 07:00 vir 07:30. Kaartjies kos R120 per persoon. Bespreek teen 7 Oktober by die organiseerder, Estelle Meyer (081 270 4020).
"Die jaarlikse ontbyt weerspieël Arbeidsbediening se verbintenis om die ekonomiese en sosiale weefsel van die streek te versterk. Soos die uitnodiging tereg stel: Die markplek is die hart van 'n stad en as die hart gesond is, leef die inwoners," sê Meyer.
Arbeidsbediening in die Tuinroete se dagbestuurslede is, van links: Victor le Roux, Mike Burnard, Floors Meyer en George Kuyler.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’