GEORGE NUUS - Gaan die beroemde Outeniqua Choe-Tjoe-trein ooit weer oor die Kaaimansrivier-treinbrug loop? Dit is die vraag wat gevra word nadat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurswese (Saice) verlede week erkenning aan die brug gegee het.
Die instansie het die brug gekies as sy Nasionale Historiese Siviele Ingenieurslandmerk vir 2019.
In 'n verklaring tydens die geleentheid waar dit aangekondig is, het Saice gesê die vloede in 2007 het die Outeniqua Choo-Tjoe nadelig geraak. Hulle bly optimisties dat dienste oor die brug hervat sal word. Dit sluit in die vervoer van toeriste en goedere.
Melvin Naik, George se burgemeester, wat die geleentheid bygewoon het, het in 'n onderhoud met die George Herald die hoop uitgespreek dat die trein weer sal loop. Hy is bewus van gesprekke met belanghebbendes.
Naik het bygevoeg dat mens realisties moet wees. "Daar sal baie herstelwerk aan die brug gedoen moet word."
Athane Scholtz, woordvoerder van die George-munisipaliteit, het later by navraag gesê die burgemeester het verwys na gesprekke tussen die Wes-Kaapse provinsiale regering en Transnet. "Die munisipaliteit is tans op geen manier betrokke by gesprekke of inisiatiewe rondom die Outeniqua Choo-Tjoe nie."
Martin Hatchuel, woordvoerder vir Classic Rail, wat aansoek gedoen het vir 'n konsessie om die trein weer te bedryf, het gesê hulle is optimisties dat hulle aansoek suksesvol sal wees.
Die Garden Route-distriksmunisipaliteit het by monde van 'n woordvoerder, Marillia Veldkornet gesê die instansie is op die oomblik nie betrokke by die proses nie. Dit is hoofsaaklik die privaat sektor en Transnet wat betrokke is.
Volgens haar kan die herlewing van die trein beslis 'n groot impak op toerisme en die ekonomie in die streek hê. In die verlede was dit 'n groot aantrekkingskrag om besoekers na die gebied te lok. Die distriksmunisipaliteit sal graag wil sien dat dit weer loop.
As dit weer die groen lig kry, kan onder meer oorweeg word om vullis van dorpe in die streek na die stortingsterrein by Mosselbaai te vervoer. Sou dit gebeur, moet dit so hanteer word dat dié deel van die projek nie 'n invloed op toerisme het nie.
Mike Asefovitz, woordvoerder van Transnet-vragvervoer, het gesê die instansie is hoopvol dat die Transnetraad 'n konsessie voor die einde van die finansiële jaar sal oorweeg en daaroor sal besluit.
Will the famous Outeniqua Choo-Tjoe ever again run over the Kaaimans River Railway Bridge? This is the question that is asked after the South African Institute of Civil Engineering (Saice) last week acknowledged the historic value of the bridge. A plaque was unveiled at Dolphin's Point overlooking the bridge, conferring the '2019 National Historic Civil Engineering Landmark of the Year' title. Mike Asefovitz, spokesperson for Transnet Freight Rail, said the organisation is hopeful that a concession will be considered and decided on by their board of directors before their financial year-end.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'