GEORGE NUUS - Jongboere in die Wes-Kaap kry weer die kans om hul bestuursvernuf en tegniese vaardighede ten toon te stel in die gesogte Agri Wes-Kaap / Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Die gesogte toekenning is verlede jaar deur 'n jong plaaslike boer van Waboomskraal, Dean Barnard, opgeraap.
Die inskrywings vir die 2025-kompetisie is nou oop, en beloof om die uitblinkers in die landbousektor te erken en beloon.
Hierdie toekenning, wat jongboere bekroon vir hul uitnemendheid en vindingrykheid, bied nie net erkenning nie, maar ook waardevolle blootstelling binne die landboubedryf. Dit is 'n unieke platform vir jongboere om hul bestuursvaardighede en innovasies op 'n groter skaal te deel.
Wie kan inskryf?
Die kompetisie is oop vir boere van 40 jaar en jonger wat reeds vir minstens een jaar 'n opbetaalde lid van hul plaaslike landbouvereniging is. Deelnemers kan onafhanklik boer, in vennootskap wees of as plaasbestuurders optree, solank hulle spesifieke bestuursverantwoordelikhede het wat beoordeel kan word.
Beoordelingskriteria
Deelnemers sal geëvalueer word op grond van die volgende sleutelareas:
• Bestuursfilosofie en -vaardighede
• Finansiële bestuur en rekordhouding
• Tegniese bevoegdheid in boerderypraktyke
• Bemarkingsfilosofie en -praktyke
• Gemeenskapsbetrokkenheid en deelname aan georganiseerde landbou.
Nasionale erkenning vir die wenner
Die provinsiale wenner sal outomaties deurdring na die nasionale kompetisie, waar hulle teen ander topjongboere van regoor Suid-Afrika meeding om die gesogte Toyota SA / Agri SA Jongboer van die Jaar-titel. Benewens die eer en erkenning, wag daar waardevolle pryse en verdere blootstelling binne die bedryf.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 25 April. Jongboere word aangemoedig om so gou moontlik in te skryf en hierdie geleentheid aan te gryp.
Vir meer inligting of om in te skryf, besoek die Agri Wes-Kaap-webwerf of kontak hul kantoor by 021 860 3801 of per e-pos by elandri@awk.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’