GEORGE NUUS - "Skat, wat is fout? Hoekom antwoord jy nie?" het me. Drienie Janse van Vuuren (23) Vrydag ‘n dringende sms na haar man, mnr. André Janse van Vuuren (30), gestuur toe hy nie sy foon antwoord en nie ná 17:00 by die huis was soos gewoonlik nie.
"Die laaste keer wat ek hom gesien het, het hy staan en vla eet," vertel Drienie, "en hy het nog grappe gemaak. Daar was niks fout met hom nie." As dit nie was dat sy onverwags vinnig om 15:30 gou huis toe was nie, sou sy hom nie nog ‘n laaste keer gesien het nie. Minder as twee uur later sou sy haar man van ‘n jaar en ‘n half, gesig teen die vloer, met ‘n koord drie keer om sy nek aantref.
Die raaiselagtige dood van mnr. Janse van Vuuren het nie net sy familie in skok en rou gedompel nie, maar ook almal wat hom in die eiendomswêreld geken het. Hy was die eienaar van André van Vuuren Eiendomme en ook voorheen ‘n polisiereservis en het bande met die DA en Cope in George gehad.
Drienie het by ‘n vriend gehoor dat haar man se kar wel voor sy werk gestaan het, en gemeen dat sy foon se battery dalk net pap was. "Sy kar was buite en gesluit. Binne-in kon ek sy groen sakkie sien waarin hy sy geld hou."
Een van die twee deure by die kantore was net toegetrek en nie gesluit nie, hoewel die sekuriteitshek toe was. "Die eerste ding wat my oog gevang het was sy sleutels wat op die rand van ‘n tafel gelê het. Ek kon hom nie sien nie en moes die sekretaresse bel om nog ‘n stel sleutels te bring."
Drienie was bang dat haar man dalk flou geword het, want hy het Woensdag nog ‘n spesialis gaan sien oor ‘n maagseer en het nie lekker gevoel nie.
In die agterste kantoor het André reguit vooroor op sy gesig gelê. ‘n Koord was verskeie kere om sy nek gedraai. "Ek het gegil en buitentoe gehardloop. Ek wou hom nie omrol nie, want netnou verstik hy. Ek kon nie aanvaar hy is dood nie, al het ek gesien sy kop was reeds bloupers," verduidelik Drienie.
Die sekuriteitswag het haar gehoor en aangehardloop gekom. "Haal die koord van sy nek af!" het Drienie beveel, maar die wag het gesê hulle moenie. Daar was bloed aan die koord, by sy neus en sy mond.
"Ek het sy pols gevoel en sy arm was nog warm," vertel Drienie terwyl haar en haar skoonma se foon aanhoudend lui en vriende hul medelye kom betuig.
Bure by die werksplek het André nog 17:00 by ‘n winkel aan die oorkant sien joghurt koop.
‘n Diep bedroefde mev. Laetitia Janse van Vuuren, sy ma, vertel: "My foon wys ek het hom om 17:12 gebel en toe het hy nie meer sy foon geantwoord nie."
Sy het ‘n histeriese oproep van Drienie ontvang ná die gru-ontdekking en haar ook na die toneel gehaas. "Toe die polisie ‘n lint span, toe weet ek my kind is dood."
André se selfoon is op hom gevind. Geen misdaad word vermoed nie, het kapt. Malcolm Pojie, provinsiale mediawoordvoerder gesê.
Die begrafnis vind Saterdag om 11:00 by die NG Kerk in Tuinedal, Rehobothstraat, plaas. Die diens sal deur pastoor Willie Jacobs gelei word.
Artikel: Anoeschka von Meck
Verwante artikel oor André Janse van Vuuren vroeër dié jaar:
http://www.georgeherald.com/news.aspx?id=283