GEORGE NUUS - Dr. Mike Sunshine, 'n gerespekteerde dokter onder sy pasiënte en geliefde kollega vir baie by Mediclinic George, het verlede week sy laaste teaterlys voltooi ná 'n loopbaan van 32 jaar as algemene chirurg in George. Kollegas het hom met 'n erewag en spesiale klein byeenkoms in die hospitaal gegroet.
Sunshine het in 1980 sy studies aan Tukkies voltooi en in 1981 sy huisdokter-jaar by die George-hospitaal gedoen, in 'n tyd toe daar nog nie 'n privaat hospitaal was nie. Hy onthou hoe bevoorreg hy was om saam met uitstaande chirurge te werk, onder meer oom Tewie Wessels, pa van die krieketspeler Kepler Wessels. "Oom Tewie was 'n ongelooflik netjiese chirurg," het hy gesê.
Aanvanklik wou hy 'n algemene praktisyn in 'n klein dorpie word, maar Wessels het hom aangemoedig om in chirurgie te spesialiseer. Sunshine is in 1983 Tygerberg toe, het in 1988 sy MMed-eksamen voltooi en vroeg in 1989 sy Kollege-eksamen geslaag. Minder as 'n jaar later was hy terug in George as hospitaalchirurg by die George-hospitaal nadat Wessels hom genooi het om sy pos met sy aftrede oor te neem.
Hy het tot 1994 daar gewerk voordat hy sy eie privaat praktyk begin het. Hy onthou dat hy vir nog 'n jaar daarna saans en na ure operasies by die George-hospitaal uitgevoer het, baie keer tot ná middernag, totdat 'n nuwe chirurg aangestel is.
Sunshine was deurgaans alleen in praktyk met sy kamers eers in Mediclinic-hospitaal, later in Trefoil Square en die afgelope paar jaar in sy kamers in Gloucesterlaan.
Hy beskryf die mense saam met wie hy gewerk het as die hoogtepunt van sy loopbaan. Sy assistent, dr. Christine Dykman, het 32 jaar saam met hom gewerk, en dr. Barry Smalberger, narkotiseur, sedert 1994.
"Die personeel in die hospitaal is baie besonders. Ek het slegs drie ontvangsdames gehad wat elkeen in hul eie reg baie besonders was op 'n baie spesifieke tyd."
Pasiënte bly egter die kern van die werk. "Ek het in die 32 jaar oor die 23 000 pasiënte op my boeke gehad."
Hy sê die beroep verg passie en toewyding.
"Vir die meeste mense in hierdie veld word jou werk amper die belangrikste ding in jou lewe. Jy spandeer meer tyd by jou praktyk as by jou huis. As jy nie van jou werk hou nie, gaan jy ongelukkig wees. As jou doel is om mense gesond en gelukkig te maak, sal die res volg."
Dr. Mike Sunshine en sy vrou, Ansie, in sy spreekkamers waar 'n afskeidsgeleentheid Vrydag gehou is. Foto: Alida de Beer
Buite sy praktyk het Sunshine altyd tyd gemaak vir fisieke aktiwiteit. Hy het 40 marathons voltooi, waarvan 11 Two Oceans en twee Comrades, aan die Cape Epic deelgeneem en op 55, 'n Ironman voltooi. Hy meen mense wat sê hulle het nie tyd om na hul gesondheid om te sien nie, het eerder 'n gebrek aan motivering. "Fisieke aktiwiteit help om stres te verlig."
Volgens hom bly chirurgie onvoorspel-baar. "Selfs 'n klein operasie kan 'n uitdaging wees en 'n moeilike een kan soms maklik verloop. Jy moet goed opgelei wees, maar ook jou beperkings ken. In die belang van die pasiënt moet jy soms verwys, maar in noodsituasies doen 'n mens wat nodig is."
Een van die gevalle wat hom bybly, is toe hy op Caleb Swanepoel, die akteur van Diepe Waters, geopereer het nadat hy in 2015 sy been in 'n haaiaanval by Buffelsbaai verloor het.
Met sy aftrede sien Sunshine uit na 'n nuwe fase. "Ek gaan dinge op my tyd doen, wanneer ek wil, en nie net wanneer ek kans kry nie. Ons restoureer tans 'n huis by die see.
"Ek gaan meer fietsry, weer begin skilder en teken, en meer lees en na musiek luister. Ek en Ansie beplan ook om die Land Rover te pak en die land deur te reis."
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’