GEORGE NUUS - Ná die dood van ‘n Covid-19-pasiënt in die Mediclinic George die naweek (Saterdag 30 Mei), is nog ‘n Covid-19-pasiënt gedurende die week in dié hospitaal opgeneem.
Hospitaalbestuurder Kassie Karstens het vandag, Donderdag 4 Junie, bevestig dat dié persoon saam met twee ander Covid-19-pasiënte wat ‘n tyd gelede opgeneem is, in die hoësorgeenheid behandel word.
Een van twee personeellede wat ‘n ruk gelede positief getoets het vir die koronavirus is weer terug by die werk. “Die tweede moet nog weer getoets word. Die dokter wat ook positief getoets het, is nog nie terug by die werk nie, maar dit gaan baie goed,” het Karstens by navraag gesê.
George-hospitaal het verlede week bekendgemaak dat drie personeellede positief getoets is. Vyf Covid-19-pasiënte word tans in die hospitaal behandel van wie een in die hoësorgeenheid is.
Die Tuinroete het tot dusver vyf sterftes gehad van wie twee in George.
Teen eenuur vandag is 93 Covid-gevalle in George aangeteken van wie 41 herstel het.
Toetsing slegs vir hoërisiko-gevalle
Die Wes-Kaapse Premier, Alan Winde, het gister in ‘n verklaring gesê die provinsie het besluit om slegs hoërisiko- en die mees kwesbare persone vir Covid-19 in die Kaapse Metropool te toets.
“Dit sal ons in staat stel om die toetsuitslae van hierdie kwesbare groepe vinnig terug te kry sodat ons spoedige stappe kan neem om lewens te spaar.”
Die besluit is geneem in reaksie op die groeiende agterstand in toetse vanuit die Wes-Kaap by die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste. Dit staan tans op ongeveer 27 000. “Ons verstaan dat ander provinsies dieselfde agterstande ervaar,” het Winde gesê.
“Dit beteken dat iemand wat ernstig siek in die hospitaal is, of ‘n gesondheidswerker, of iemand wat ons weet ‘n hoë risiko het om te sterf weens Covid-19-infeksie, tussen 7 en 12 dae vir uitslae moet wag. Dit is nie ‘n opsie nie.”
Hy het gesê totdat ‘n stadium bereik word waar bykomende toetskapasiteit beskikbaar gemaak word, is hierdie die enigste oplossing om vroeë opsporing te bewerkstellig in hoërisiko-individue en gesondheidswerkers wat verantwoordelik is “om na ons geliefdes om te sien wanneer hulle baie siek word”.
Die nasionale minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het gesê Suid-Afrika sukkel, soos ander lande, om reageermiddels (reagents) - bestanddele wat in die toetsing gebruik word - in die hande te kry weens ‘n wêreldwye tekort daaraan.
Die Covid-19-getalle vir die ander dorpe in die distrik (tot en met 13:00 op 4 Junie) is soos volg:
- Knysna 59 (37 herstel)
- Mosselbaai 30 (25 herstel)
- Oudtshoorn 15 (5 herstel)
- Bitou 16 (15 herstel).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'