GEORGE NUUS - Reynard Rossouw het gister (Woensdag 1 April) sy 73ste dag van inperking tegemoetgegaan, maar was verlig dat dit darem tuis by sy ma, Marianne, in George kon wees.
Rossouw was deel van die groep Suid-Afrikaners wat die regering uit Wuhan teruggebring het. Hy het Dinsdagmiddag tuisgekom nadat die groep se 14 dae kwarantyntydperk by The Ranch Lodge in Polokwane Sondag ten einde geloop het.
Sy tydjie by The Ranch was aangenaam, sê hy, en hy het twee goeie vriende gemaak wat soos 'n "tweede familie" vir hom geword het.
"Die weermag en personeel van The Ranch het ons met ope arms ontvang en tuis laat voel. Ons het vryheid gehad om binne die area van die hotel rond te beweeg, maar is nie toegelaat om die fasiliteite te gebruik nie. Die kos was heerlik en ons het TV in ons kamers gehad, maar ek het meer saam met my twee nuwe vriende gekuier."
Hy sê hulle was verras toe President Cyril Ramaphosa hulle voor hulle vertrek kom groet het. Die groep is Maandag van Polokwane na Johannesburg waar hulle in kleiner busse verdeel is wat hulle na hul onderskeie areas vervoer het. Hy het saam met 'n kleiner groep na Kaapstad gereis, waar sy pa hom ontmoet het en George toe gebring het.
"Die realiteit van my tuiskoms het nog nie heeltemal ingesink nie. Ek bly tans by my ma terwyl ek uitwerk wat ek gaan doen. Weens die inperking het ek nog nie enige bekendes gesien nie, maar ek sal wel 'n lekker kuier met my vriende en familie reël wanneer dit gelig word."
Reynard Rossouw (links) saam met twee vriende wat hy gemaak het by The Ranch, Evan Carstens en Savannah-Lee de Lange.
Chinese inperking gedissiplineerd
Buiten sy vlug na Suid-Afrika en reis na George, het Rossouw nou al 73 dae van inperking meegemaak, maar hy glo dis die moeite werd.
"Toe die inperking in Wuhan ingestel is, is alle dienste gestop. Mense is nie toegelaat om op straat rond te loop nie. Die polisie was vreeslik streng. Jy kon tronkstraf kry as jy onnodig buite was.
"Die Chinese inperking het met dissipline gepaard gegaan. Almal het hul samewerking gegee om die virus te beveg, daarom dat almal se lewens nou weer kon terugkeer na normaal."
Toekoms
Rossouw wil graag verder studeer. Sy aansoek om in te skryf vir die nagraadse sertifikaat in opvoeding aan Unisa is egter afgekeur omdat die program reeds oorvol is.
Hy wag nou om te hoor of sy aansoek om 'n honneursgraad in ekonomie te doen, goedgekeur is. Hy mik uiteindelik om 'n MBA te verwerf.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'