GEORGE NUUS - Die sewejarige Jana Human, 'n gr. 1-leerder van George Voorbereidingskool, is in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad in 'n stryd gewikkel met Tipe B akute limfoblastiese leukemie.
Haar pa, Jaco, sê sy is op 21 September gediagnoseer en dit was vir hulle gesin 'n geweldige emosionele skok. "Sy was binne 24 uur ná diagnose in die hospitaal."
Terwyl Jana tans saam met haar ma, Petru, by haar oupa in die Kaap tuisgaan en daagliks hospitaal toe pendel vir chemoterapiebehandeling, hou Jaco die pot aan die kook en kyk na die egpaar se twee ander dogters, Nita (12) en Ankia (11).
Die tipe leukemie waaraan Jana ly, affekteer die witbloedselle in die beenmurg en veroorsaak dat dit muteer na kankeragtige selle wat vinniger groei as was die liggaam nuwe witbloedselle kan vervaardig. Sy is tans in die eerste van vier fases chemoterapiebehandeling wat ongeveer ses maande gaan duur.
Wanneer dit voltooi is, sal sy vir die daaropvolgende 18 maande net een maandelikse behandeling kry, ook in Kaapstad.
Sy reageer goed op die huidige behandeling, hoewel sy konstant naar en moeg voel en al haar hare verloor het. Daar is egter lig aan die einde van die tonnel, sê Jaco.
"Volgens die onkoloog is dit een van die mees nagevorste kankers en Jana gaan dit oorleef. Haar ouderdom en die feit dat sy 'n meisie is, tel onder andere in haar guns. Sy is gelukkig ook gediagnoseer voordat die kanker verder as haar beenmurg kon versprei."
Tans reis Jaco elke naweek Kaap toe om by sy vrou en jongste dogter te wees. Die gesin gaan deur 'n tyd van beproewing en om klein Jana positief en gemotiveerd te hou, is 'n uitdagende taak, maar ondersteuning en oproepe van bemoediging wat hulle ontvang, selfs van vreemde mense, help hulle staande bly.
"Daar is ook kankeroorwinnaars wat ons bemoedig en raadgee. Ons is uiters dankbaar daarvoor," sê Jaco.
'n Vriend van die gesin, Johan Boshoff, het George Herald genader en namens die gesin gevra vir hulp in enige vorm, "van gebede tot bewusmaking en emosionele ondersteuning tot finansiële hulp indien moontlik".
Die finansiële impak op die gesin is geweldig aangesien die onkologievoordele op hul mediese fonds beperk is. 'n Facebook-blad, 'Jana the Brave', is gestig waar mense meer inligting kan kry oor hoe hulle die gesin kan help.
Voor diagnose, 'n gesonde Jana Human en haar ma, Petru.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'