GEORGE NUUS - Een van George se bekendste egpare, Flip en Rina de Swardt, is vandag, 19 Desember, 60 jaar getroud.
Flip (84) het diep spore in onderwyskringe getrap (hy was onder meer onderhoof van Hoërskool Outeniqua) en was ook burgemeester van George.
Rina (82) het 'n groot impak op baie mense se lewens gehad en was onder meer vir 28 jaar voorsitter van die ACVV George. Sy het ook 13 jaar op die instansie se hoofbestuur gedien.
Hulle het steeds 'n vol lewe en hul huwelikspad van die afgelope 60 jaar dien as voorbeeld en inspirasie vir baie.
Hulle het mekaar in 1963 in Beaufort-Wes ontmoet waar hulle onderwysers was tussen 1963 en 1966. Flip kom oorspronklik van George en Rina van Marchand naby die Augrabies-watervalle in die Noord-Kaap.
Hulle is op 19 Desember 1964 getroud en het in Julie 1966 na George verhuis waar hulle vir 12 jaar koshuisouers by Beyers-tehuis was.
Oor die jare het hulle die spreekwoordelike sewe sakke sout saam opgeëet. Daar was baie vreugde, maar ook hartseer. "Ons het saam hartseer beleef toe ons ons seun op 22-jarige ouderdom aan die dood afgestaan het," het Flip die week vertel.
Rina en Flip het mekaar in Beaufort-Wes in 1963 ontmoet waar beide onderwysers was tussen 1963 en 1966.
Natuurlik was daar verskille by tye. "Ek is 'n wit/swart mens. 'n Ding is of reg of verkeerd. Rina is weer 'n grys mens en sy is bereid om kompromieë aan te gaan," het Flip gesê.
"Die 60 jaar is net genade en dis 'n voorreg om nog saam te kan wees en byvoorbeeld saam vakansie te kan hou. Ek glo as jy aan iemand trou beloof, is dit vir ewig. "
Volgens Rina is een van die redes vir hul lang suksesvolle huwelik die feit dat hulle mekaar so goed aanvul. "Ons het mekaar ruimte gegee om ons belangstellings uit te oefen en ons onderskeie beroepe te kon beoefen."
Sy glo die huwelik as 'n instelling moet voortbestaan. "Anders is dit maar net mekaar vat en los. Ons sal weer die pad volg."
Die Swardts gaan vandag die dag saam het hul dogter, René en skoonseun, Gerhard Haupt deurbring.
Daar sal behoorlik fees gevier word want René en Gerhard is ook op 19 Desember getroud en vier vandag hulle 32ste huweliksherdenking.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’