Update
GEORGE NUUS - Binne 48 uur na 'n gewapende roof op twee toeriste in Wilderness, is drie vermeende rowers vasgetrek en voor die hof gebring.
Marlin Jansen (35), Jason Scheepers (20) en Devonique Scheepers (21) het Maandag 26 Februarie in die George-landdroshof op 'n aanklag van gewapende roof verskyn.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is al die gesteelde goedere gevind. "Van die items was in die verdagtes se besit en die res was by 'n tweedehandsewinkel in George opgespoor."
Die verdagtes is Woensdagmiddag, 21 Februarie omstreeks 17:30 by hul huise in Touwsranten in hegtenis geneem.
Die mans word daarvan beskuldig dat hulle die Duitse paartjie verlede Maandag 19 Februarie in Wilderness by die beginpunt van die Brown-hooded Kingfisher-staproete aangeval en beroof het.
Die slagoffers het om 12:00 hul motor by die piekniekplek naby Rondervlei parkeer om die staptog te begin.
Toe hulle 'n uur en 'n half later terugkeer, het hulle drie verdagte mans gesien wat hulle gesigte bedek.
Die egpaar het na hul motor gehaas, maar is deur die verdagtes oorval, met 'n mes gedreig en beroof.
Pojie sê dié deurbraak volg na 'n spesiale ondersoekspan, onder leiding van 'n senior offisier van die George-polisiestasie, aangestel is om dringend aan die rooftog aandag te gee.
"Die span wat deur gebiedshoof, genl-maj. Oswald Reddy, saamgestel is, het waardevolle inligting opgevolg en die gebied fyn dopgehou wat tot die deursoeking van die verdagtes se huise gelei het," het Pojie aan die George Herald gesê.
Reddy het die span bedank vir hulle deursettingsvermoë en deeglike ondersoek wat tot die inhegtenisname gelei het.
* Within 48 hours after two German tourists were mugged in Wilderness last week Monday, police arrested three suspects at their homes. According to Southern Cape police spokesperson, Captain Malcolm Pojie, the three men, Marlin Jansen (35), Jason Scheepers (20) and Devonique Scheepers (21) were arrested in Touwsranten at approximately 17:30 on the Wednesday following the incident.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'