GEORGE NUUS - Atlete van skole in George is goed verteenwoordig in die Eden-spanne wat die komende naweek, 9 Maart, en die naweek van 15 en 16 Maart onderskeidelik aan die Wes-Kaapse laer- en hoërskool-atletiekkampioenskappe in die Paarl gaan deelneem.
André du Preez, spanbestuurder Eden Laerskole Atletiek, het Dinsdag 5 Maart gesê die span neem deel teen spanne van WP en Boland.
Die span bestaan uit 140 atlete waarvan 25 van George afkomstig is. "George se atlete doen gewoonlik goed en verower altyd medaljes."
In die span is atlete vanaf 10 tot 13 jaar wat aan veld- en baanitems sal deelneem.
Na afloop van die naweek se byeenkoms word 'n Wes-Kaapse span gekies wat van 24 tot 26 Maart by die Oscar Mpe-stadion in Limpopo aan die SA kampioenskappe sal deelneem.
Hoërskole in die Eden-streek staan net soos die laerskole ook sterk. Eden-hoërskole het vanjaar vir die eerste keer in 'n lang ruk hul kampioenskappe apart van die ASWD-kampioenskappe gehou om vir atlete 'n ekstra byeenkoms in die provinsie te bied.
Eden-hoërskole het vanjaar 'n besluit geneem om vir Jannie Nel (Eden Athlete Management Services) te betrek as algemene bestuurder van die skolespan.
Sy vorige ervarings as algemene bestuurder van Eden- en Wes-Kaapse skolespanne help dat plaaslike atlete 'n rustiger aanloop na die Wes-Kaapse kampioenskappe kan hê.
Nel het gesê atlete vertrek op 14 Maart na Dal Josafat in die Paarl waar hulle op 15 en 16 Maart teen WP en Boland se skolespanne meeding.
Die Eden-span is saamgestel na 'n onlangse byeenkoms in Oudtshoorn waaraan 877 atlete vanoor die streek deelgeneem het.
George is goed verteenwoordig in die span en byna die helfte van die atlete kom van hier. George-streek is in die algemeen die sterkste.
Volgens hom het die Eden-span 'n baie goeie kans om meer medaljes te wen as verlede jaar. Hamergooi is die sterkste item van die deelnemers.
Christo Vrey, middelafstandafrigter van Glenwood House, het gesê George vorm die kern van die span.
Die Eden-span staan sterk in byvoorbeeld spiesgooi, gewigstoot en hamergooi en het 'n goeie kans om medaljes te wen. Ook in die middelafstande soos die 800 m is daar 'n kans vir 'n medalje.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’