In 2010 was Tes-Adri Page ‘n “skraal klein meisie” van Idasvallei in Stellenbosch met ‘n voorliefde vir tale, gedigte en skryf. Tydens die Universiteit Stellenbosch se Desember gradeplegtigheid, verwerf sy ‘n meestersgraad in Afrikaans – met lof!
Deur die verloop van die afgelope 15 jaar is sy deurlopend deur haar ma ondersteun en aangemoedig. Terselfdertyd het sy nie gehuiwer om elke geleentheid aan te gryp nie – soos dié wat deur die Woorde Open Wêrelde (WOW) projek moontlik gemaak is.
“Ek was 11 jaar oud en in Graad 5 in die Laerskool Idasvallei toe ek vir die eerste keer aan ‘n WOW spelkompetisie deelgeneem het. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Ek was verbaas toe ek tot die eindrondte deurgedring het, maar terselfdertyd het dit my ook baie gelukkig gemaak.”
En sy onthou nog die wenwoord: “Halssnoer”.
WOW is al vanaf 2003 ? bemagtigingsprojek van die Toyota Stellenbosch Woordfees. Kreatiewe programme gerig op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste bemagtig leerders en opvoeders deur hul taalkennis en -vaardighede te slyp. Die Sanlam WOW-spelfees is tans die grootste spelkompetisie in Suid-Afrika en word in al nege provinsies aangebied.
Tes-Adri glo sy het haar liefde vir taal en onderrig van haar ma geërf: “Daar was altyd ? taalaspek betrokke by alles waaraan ek deelgeneem het – van spelkompetisies tot die skoolkoerant. Al hierdie geleenthede om voor mense op te tree, het ook gehelp om my selfvertroue te bou. Vandag word ek gemotiveer wanneer ek studente tutor of vir hulle klasgee. Om die lig in ? student se oë te sien wanneer hulle verstaan, om mense te kan help.”
Dié liefde vir tale en om ander deur middel van taal te bemagtig, blyk ook uit die feit dat South African Sign Language (SASL) een van haar vakke op voorgraadse vlak was.
Om die pot aan die kook te hou en haar familie te ondersteun, was Tes-Adri vir die afgelope paar jare ‘n fasiliterende dosent en tutor vir die Verlengde Kurrikulum Program, waar sy die Akademiese Geletterdheid module hanteer het: “Die doel van die module is om studente toe te rus met die nodige vaardighede om akademies te kan skryf, om akademiese tekste te verstaan en om dit krities te ontleed. Die fokus is op taal en geletterdheid.”
Sy was ook ? tutor vir Afrikaanse Taalaanleer op tweedejaarsvlak: “Die verwagting is dat die studente reeds in Afrikaans kan kommunikeer. Ek moes hulle help om krities in Afrikaans te kan dink en kommunikeer.”
Gedurende die afgelope twee jaar het sy dikwels gedurende die dag moes klasgee, terwyl sy in die aande aan haar tesis gewerk het.
Vir haar meestersgraad het Tes-Adri die gebruik van prente in die onderrig van Afrikaansvreemdetaalaanleer ondersoek. As tutor, het sy agtergekom dat visuele voorstellings en tegnologie as hulpmiddel vir verstaanbaarheid gebruik kan word: “Ek het prente as ? brug gebruik sodat die betekenis van die woord of sin in die doeltaal verstaan kon word. Dit was duidelik dat die studente die prente geniet het, en dat hulle sodoende die inhoud van die teks beter verstaan het,” verduidelik sy.
Vir haar ma, Tes-Ri, was haar werk in die Dekaansafdeling van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die US sedert 2003 soos ? rigsnoer op hulle pad.
“Ek het baie lief vir my werk en my mense geword. Dit het my weer moed in die lewe gegee, omdat hulle my so goed ondersteun. Om ? enkelma te wees, is nie speletjies nie. Veral as jy nie meer ouers het op wie jy kan staatmaak nie.”
Danksy die feit dat permanente werknemers van die US se kinders verniet kan studeer, kon Tes-Ri hierdie en baie ander geleenthede aan haar dogter bied. Sy spog graag oor die feit dat Tes-Adri ook klavier speel en die Royal Schools of Music se Graad 5-eksamen geslaag het.
“Ek het nie woorde nie. Al die lof en eer gee ek aan my Here wat my die krag en wysheid gegee het om haar groot te maak. Ek is so trots ek kan dit vir die hele wêreld uitbasuin – dankie God!”
Vir Tes-Adri is haar akademiese reis nog glad nie op einde nie: “Van kleins af het ek geweet van die universiteit. Ek sou na skool na my ma se werk toe stap en daar sit en wag. Ek het altyd geweet ek sal eendag hier wil studeer.”
En die volgende mikpunt op haar lys?
“? Werk. In alle erns, ? PhD. Ek wil baie graag verder studeer.”