Video
GEORGE NUUS - Bianca van der Merwe, beter bekend as Die Kampvuur Blondie, is 'n bekende Suid-Afrikaanse reisblogger wat mense regoor die land inspireer om die buitelewe te omarm.
Sy is onlangs deur Netwerk24 aangewys as een van hul Smaakmakers in die kategorie buitelewe en reis - 'n bewys van haar groeiende invloed en unieke leefstyl.
Met bykans 50 000 volgelinge en miljoene kyke op haar inhoud, neem Bianca haar gehoor saam op 'n reis vol kampvuurstories, sonsondergange en die eenvoud van die natuur. Wat haar storie besonders maak, is dat sy nie net reis nie, sy leef dit, voltyds, saam met haar gesin.
Die Van der Merwes is tans aan die Tuinroete gevestig en bou aan hul droom om voltyds Van life te leef in 'n volledig toegeruste kampeerwa. Vir hulle is dit nie net 'n leefstyl nie, dit is 'n manier van lewe.
Bianca werk voltyds aanlyn vir 'n internasionale maatskappy, wat haar die vryheid gee om van enige plek af te werk. Terselfdertyd bou sy haar naam as reisblogger deur resensies van lodges, wildplase, gastehuise en chalets regoor Suid-Afrika. Haar inhoud bly eg, rou en werklik - presies wat haar volgelinge lief het.
Vanaf volgende jaar gaan haar twee tieners tuisonderrig ontvang. Dit is 'n besluit wat perfek inpas by hul reisleefstyl. "Waar daar Wi-Fi of sein is, kan dinge gebeur," sê sy. Op hierdie manier word die wêreld hul klaskamer en elke bestemming deel van hul opvoeding.
Hul reis het begin ná uitdagings met tradisionele behuising, wat hulle laat besef het daar is 'n ander manier van leef - eenvoudiger, vryer en nader aan die natuur. Vandag verruil hulle mure vir oop ruimtes, en elke nuwe bestemming word deel van hul storie.
Daar word gereeld gebraai. Foto: verskaf
Bianca sê baie mense besef nie dat basiese dienste soos water, ligte en sekuriteit reeds by kampeerplekke ingesluit is nie, en dat jy in werklikheid net vir jou verblyf betaal. Wat aanvanklik soos ongemak voel, raak gou tweede natuur. Die konstante verandering van bure, plekke en omgewings is nie meer 'n uitdaging nie, maar iets waarna hulle uitsien.
Volgens haar lê die grootste rykdom in hul tyd saam. Haar gesin het mekaar weer van voor af leer ken en 'n sterker, hegte familie-eenheid gevorm.
Haar kinders moes vinnig leer om saam met die natuur te leef en blootstelling aan wind, reën en koue te hanteer - iets wat hulle gevorm het in veerkragtige, aanpasbare jongmense. Haar dogter het boonop 'n groot liefde vir die natuur ontwikkel en droom daarvan om eendag wildbewaring te studeer.
Video: Kampvuur Blondie, oftewel Bianca van der Merwe, stel haarself kortliks voor en gee kykers ’n voorsmakie van haar unieke kampeer leefstyl
Vir Bianca gaan hierdie leefstyl oor meer as net reis, dit gaan oor vryheid, eenvoud en egtheid.
Haar raad aan nuwe kampentoesiaste is eenvoudig: begin klein. Verken naweke plekke binne 'n radius van 30 tot 60 km van jou huis af en huur eers wat jy nodig het voordat jy toerusting aanskaf.
"Jy hoef nie alles uit te figure voor jy begin nie," sê sy. "Want as jy nie waag nie, gaan jy nooit weet nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’