GEORGE NUUS - Sy het nooit gedink dit sal ooit met haar gebeur nie, tot sy haarself vyf maande swanger in haar matriekjaar bevind het. Anel Meintjies sê as sy nou terugkyk sou sy baie meer versigtig gewees het, omdat haar ma haar aanhoudend gewaarsku het.
"Maar ek sou nooit die maklike uitweg kies en my baba wegmaak nie. Hy is 'n absolute vreugde in ons lewens en ek is gelukkig dat ek en sy pa nog steeds saam is."
Vir haar was dit die grootste skok in 2008, en inligting was toe al oral beskikbaar, juis om tienerswangerskappe op skool te help voorkom. Sy het nie geweet hoe sy terug by die skool ontvang sou word nie, maar met die regte ondersteuning is sy terug skool toe en kon haar matriekjaar voltooi.
"Ek het met 'n groot maag na my matriekafskeid gegaan."
Nie almal is so gelukkig om ondersteuning van albei families te kry nie, sê sy, en dus ag sy haarself geseënd. En na haar storie soos 'n veldbrand by die skool versprei het, het 'n ander leerder ook die moed gehad om te vertel dat sy swanger is.
Die Wes-Kaapse onderwys departement het onlangs 'n mediaverklaring vrygestel waarin hulle sê tienerswangerskappe het afgeneem. Die verklaring maak sprake van opnames wat tussen 2015 en 2017 gedoen is. Dit wil sê vir die drie jaar ter sprake was daar 'n afname van 2 880 in 2015 tot 2 148 in 2017. In 2016 was die syfers 2 412.
Die departement sê die afname is te danke aan verskeie programme wat hulle by skole aanbied. Hulle sê die programme teiken beide seuns en dogters om die belangrikheid van 'n seksuele verhouding te verduidelik, wat seksklets is asook die emosionele en wettige aspekte daarvan.
Dis ook belangrik dat leerders moet weet wat dit is om 'n tienerouer te wees, maar die belangrikste is om skool te voltooi.
Daar is ook 'n beleid van die departement oor die bestuur van tienerswangerskappe. In so 'n geval moet alle partye betrokke na die skool gaan, die skoolhoof verduidelik dan wat dit behels en 'n ooreenkoms word geteken sodat daardie leerder in die skool kan bly.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'