GEORGE NUUS - Dit is vanjaar skrikkeljaar en die tehuis vir bejaardes, JJ Watson, gaan op Saterdag 29 Februarie 'n Skrikkelfees hou.
Die fees begin om 08:00 die oggend en gaan weer soos in die verlede op die hele terrein aangebied word.
In die tuin aan die oostekant van die gebou gaan heerlike worsbroodjies met tamatiesmoor verkoop word. In die teetuin kan besoekers ontspan met heerlike tee en koffie saam met kaaskoek en baie ander snoeperye.
Francois Hayes gaan weer sorg vir 'n feestelike atmosfeer. Die winkel met witolifante en baie klere is die regte plek vir die snuffelaar. Kom koop 'n paar spekboompies en maak daardeur 'n bydrae deur groen te leef.
In die eetsaal gaan daar regte outydse poeding met vla te koop aangebied word. Maak seker dat jy betyds is vir die baie gesogte ontbyt asook die heerlike kerrie en rys. Die sitkamer is weer die plek om te wees, want die heerlikste koek, beskuit, melktert en nog vele meer – presies soos ouma dit gemaak het – is daar vir die soettand.
'n Fees sonder pannekoek is nie 'n fees nie, en die liplekker pannekoeke word op die onderdakstoep gebak. Maak seker dat u dit nie misloop nie. Behalwe die pannekoek is daar 'n wegneembraaipak wat bestaan uit 'n gebraaide hoenderdy, wors, twee slaaie en 'n broodrolletjie, ideaal vir middag- of aandete. Bestel vroegtydig om teleurstelling te voorkom.
Daar word vanjaar weer twee items uitgeloot. Een daarvan is die alombekende groot kaaskoek – 'n ideale item vir die gesin. (Indien jy dit wen). Ons maak ook voorsiening vir die buiteluglewe en 'n pragtige en duursame piekniekmandjie en bypassende ooprol kombers word uitgeloot. Die pryse vir die lootjies is slegs R5.
Kom geniet die fees en koop vir jou 'n paar goeie boeke, CD'S, DVD'S en baie ander items vir die jongspan.
Bring van jou vriende saam en geniet die Skrikkelfees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'