Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Elke oggend van die week word hulle by hul eie dagsorg afgelaai. Hulle speel met "maatjies", slaap soms vir 'n rukkie en laatmiddag word hulle weer deur hul eienaars opgelaai. Dit is honde wat net soos kinders, daagliks na hul eie dagsorg gaan, terwyl hul eienaars by die werk is of ander verpligtinge het.
Uit navrae by instansies wat sulke dienste in George verskaf, blyk dit dat daar 'n toenemende aanvraag is. Een van die groot redes is honde wat gesteel word en eienaars wat nie meer hul honde alleen by die huis wil los nie. Voorts wil honde-eienaars ook hê dat hul honde meer moet "sosialiseer".
Eric Jakins, eienaar van Doggie Daycare Centre het gesê honde wat gesteel word en eienaars wat nie hul diere alleen tuis wil laat nie, speel beslis 'n rol.
Hy het voorheen 'n soortgelyke onderneming in Engeland bedryf en toe die huidige onderneming hier begin. Sulke ondernemings in die buiteland en van die groot stede, is reeds baie gewild.
Gewoonlik laai mense hul honde tussen 07:30 en 08:00 by sy onderneming af en tel hulle weer tussen 17:00 en 17:30 op.
"Mense wil nie hê dat hul honde alleen moet wees nie. Van die honde het oefening nodig en sosialiseer met ander honde tydens hul besoek."
Kyk 'n video hieronder.
Eric Jakins van Doggie Daycare Centre speel met van die honde.
Honde word vooraf gekeur om te sien of hulle sal inpas. Mense moet ook vooraf bespreek.
Wanneer die honde afgelaai word, word spesifieke dinge gedoen wat hulle stimuleer soos om iets te soek wat weggesteek is.
By die onderneming is 'n verskeidenheid honde wat wissel van Duitse herdershonde tot Jack Russels.
Die honde is nooit alleen nie en die hele tyd onder toesig. In die toekoms word beplan om byvoorbeeld die honde te laat swem met die toestemming van die eienaars.
Gaye Smith van Blanco pas ook mense se honde op 'n daaglikse basis op. Sy doen dit al vir minstens sewe jaar en kan tussen 4 en 8 honde huisves. "Daar is 'n groter vraag na so-iets," het sy gesê.
Gelukkige honde in dagsorg by Pup Care.
Die honde kan vry rondhardloop en gewoonlik word hulle van 08:00 afgelaai. Sy gee nie om hoe laat die honde gehaal word nie. Solank dit net nie later as 19:00 tot 20:00 is nie. Sy bied die diens sewe dae per week aan. Mense bring die honde se eie kos en komberse.
In die verlede was daar 'n egpaar wat hul hond een keer per week gebring het. Die honde moet verkieslik klein wees en daar is toesig. "Ek geniet hulle. Honde is goeie geselskap."
Ruda van Loggerenberg van Pup Care het ook bevestig dat daar 'n groter aanvraag is. "Dit is goed vir diere om te sosialiseer. "Die eerste honde word van 07:30 afgelaai en mense kan hulle tot 17:15 kom haal.
Van die mense bring die honde een keer per week. Soms bring mense die honde omdat hulle skeidingsangs het as hulle alleen moet bly. Dit gebeur ook dat honde blaf of huil as hulle alleen is. Mense sluit dan die honde in 'n badkamer toe. Volgens haar is dit 'n groot fout.
Gaye Smith van Blanco, wat mense se honde oppas, by van haar eie honde. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'