GEORGE NUUS - Almal droom van 'n heerlike vakansie by die kus - en as jy die see kan sien, des te beter.
Ons almal ken die prentjie. Die hele gesin daag sak en pak by hul vakansieverblyf op, kleinsus op die arm en 'n kleuter wat nie kan wag om sandkastele op Diazstrand te bou nie. Ma en pa is albei gereed vir twee of drie weke se son, strand en swem. Idillies.
Ongelukkig het 'n nuwe slenter onlangs sy kop uitgesteek en vakansiegangers en reisigers moet in hul pasoppens wees.
'n Persoon met verskeie Facebook-profiele is besig om die vrugte van ander se harde werk te pluk. Die persoon, wat in die verlede reeds agter talle aliasse geskuil het, het homself meer onlangs as JD Watts, Winene Kruger en Winny Olivier voorgedoen.
Die modus operandi is deurlopend dieselfde met al sy slagoffers.
'n 43-jarige vrou van George, wat verkies om anoniem te bly, het aan George Herald haar storie vertel.
Sy sê sy was onlangs op die Facebook-blad, Mossel Bay Holiday Accommodation, 'n gewilde blad waar eienaars met vakansieverblyf hul dienste adverteer.
"Twee plekke by wie ek navrae gedoen het vir verblyf, het my laat weet hulle is vol bespreek. Ek het my nommer in die kommentaarafdeling gelos en hulle gevra om my te kontak indien hulle 'n kansellasie kry," vertel sy.
Twee dae later het sy 'n WhatsApp-boodskap van ene Winny Olivier ontvang. "Hy het gesê hy het vir my 'n tweeslaapkamereenheid by 'n bekende luukse woonstelblok in Mosselbaai beskikbaar vir die datums waarvoor ek gevra het. Ek het hom gevra vir meer inligting oor die plek en hy het vir my foto's gestuur en gesê dis naby aan die see," vertel sy.
Olivier het sy bankbesonderhede oor op WhatsApp gestuur, die slagoffer het R1 200 betaal en geen onraad vermoed nie.
Groot was die verrassing egter toe die vrou, haar man en hul seun by die woonstelblok voor dooiemansdeur aankom. "Ons het vir langer as 'n uur vir hom gewag. Ons het hom probeer bel en geWhatsApp, maar hy het bloot nie geantwoord nie. Omstreeks 20:00 het ons teruggery George toe en ek het hom gewaarsku dat ek 'n bedrogsaak gaan maak," sê sy.
Die volgende dag het sy op die Mossel Bay Holiday Accommodation-blad navraag gedoen oor die woonstel en die wettige eienaar, Jackie Cox, opgespoor.
Talle slagoffers
Volgens die eienaar van die woonstel is daar reeds talle mense deur die swendelaar ingedoen. "Sommige is ingedoen met bedrae van meer as R25 000," sê Cox.
"'n Dame het my 'n paar maande gelede gebel en gevra of ek die wettige eienaar van die woonstel is, want haar ma, wat al vir jare spaar om na Mosselbaai met vakansie te kom, het pas al haar geld verloor. Siestog, sy was in trane," sê Cox.
Cox sê mense moet doodseker wees voordat hulle deposito's betaal. Die man het 'n paar valse profiele op 'n verskeidenheid van Facebook-blaaie wat verblyf aanbied. Indien jy nie doodseker is of deur 'n reisagentskap werk nie, vra eerder vir die ander persoon se ID," sê sy.
Sy sê die swendelaar kontak mense wat vakansie-verblyf op Facebook-blaaie soek. Hy bied dan haar woonstel aan teen 'n verminderde prys omdat hy glo pas 'n kansellasie gehad het.
"Mense spring dan vir die geleentheid. Die woonstel het 'n seeuitsig, so hy verkoop vinnig," sê sy.
Die swendelaar kommunikeer gereeld met sy slagoffers en stuur selfs foto's van die woonstel. Die kommunikasie stop egter sodra die slagoffers by die woonstel aankom en later besef hulle is ingedoen.
Wenke
'n Artikel op aa.co.za gee die volgende wenke om te verhoed dat jy 'n slagoffer van so 'n tipe slenter word.
- n Sodra jy geskikte verblyf gevind het, soek aanlyn oor die huuragent of eienaar om inligting te bevestig. Gebruik Google Maps om seker te maak dat die adres bestaan en vergelyk beelde van die omgewing met dié wat gebruik word om die eiendom te adverteer.
- As 'n fasiliteit honderde uitstekende resensies aanlyn het, maar dit is net vir 'n kort tydperk gelys, moet jy agterdogtig wees, aangesien daardie resensies waarskynlik vals is.
- 'n Goeie manier om betroubare vakansie-verblyf te vind, is deur verwysings. Vra vriende en familie.
- Indien die akkommodasielys in 'n oord, kompleks of landgoed is, skakel die opsigter of bestuurder om te bevestig dat die instansie bestaan en bevestig die besonderhede van die eienaar.
- Moenie skaam wees om soveel vrae te vra as wat nodig is vir jou om tevrede te wees dat die inligting geloofwaardig is nie. Betroubare agente en eienaars sal nie omgee om die inligting te verskaf wat jy benodig nie.
- Maak seker dat jy die adverteerder se volle naam, e-posadres en kontaknommer het. En dring aan op skriftelike bevestiging van jou bespreking en enige betaling wat gemaak is.
- As iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik so. As die verblyf baie goedkoper is as oor die algemeen in daardie area, kan dit vals wees. As 'n uitstekende ligging nog beskikbaar is, dae voor die hoogseisoen aanbreek, is dit waarskynlik vals.
Die regte Winene Kruger vra mense op Facebook om bedag te wees dat haar Facebook-rekening gekloon is. Dit is een van die name wat deur die swendelaar gebruik was.
'n Faktuur wat deur een van die slagoffers betaal is.
'n Plaasing deur die administrateur van die Facebook-blad Sakpas Verblyf om mense te waarsku teen swendelaars.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’