GEORGE NUUS - Georgiete kan hulle maar staal vir waterbeperkings wat nog tot 14 maande kan aanhou.
Dit het verlede Donderdag, 3 Februarie, tydens 'n maandelikse ontmoeting tussen die senior leierskorps van George-munisipaliteit en die sakegemeenskap, aan die lig gekom.
Die ontmoeting vind plaas onder voorsitterskap van burgemeester Leon van Wyk.
George se waterbronne is die afgelope tyd onder groot druk, maar versoeke om water spaarsaam te gebruik, val op dowe ore.
Dr. Michelle Gratz, waarnemende munisipale bestuurder, bygestaan deur senior amptenare, het 'n oorsig gegee van projekte wat in die munisipaliteit beplan word en uitdagings wat die hoof gebied moet word.
Hoë waterverbruik
Gratz het gesê in die eerste ses maande van 2021 was die gemiddelde verbruik 32 megaliter per dag. Dit het daarna gestyg tot 34 megaliter per dag.
In Desember het dit nog verder gestyg na 39 tot 40 megaliter per dag. Dit het so voortgeduur in Januarie.
Daar is vermoed dat dit weer sou daal na die vakansieseisoen tot 34 megaliter per dag. Dit het egter nie gebeur nie. Die warm weer kon daartoe bygedra het. Op die oomblik is die verbruik 39 tot 40 megaliter per dag.
Volgens Gratz moet in gedagte gehou word dat daar in November en Desember vloede was wat ernstige skade aan infrastruktuur veroorsaak het. Verskeie pypbarstings het die opgaar-damme laat leegloop.
Die opgaardamme is baie belangrik vir noodopgarings.
Met die watersuiwerings en verbruik byna dieselfde die afgelope twee maande, het die opgaardamme nie geleentheid gehad om te herstel nie.
Die korttermyn oplossing is om verbruik te verminder en beperkings is op 25 Januarie ingestel. Dit bevat verskeie aspekte soos tuine wat nie natgelei mag word nie. Mense kan wel aansoek doen vir vrystelling en elke versoek word op meriete oorweeg.
Op die langtermyn is die oplossing om die watersuiweringskapasiteit te verhoog. Sy het benadruk mense sal versigtig moet wees met watergebruik vir die volgende 14 maande tot die ou watersuiweringswerke opgegradeer is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'