Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - South African Water Warriors het onder leiding van die stigter, Deon Smit nog ‘n konvooi saamgestel uit vrywilligers van regoor die land vir 'n uitreik na Kenhardt in die Noord-Kaap op Saterdag 8 Februarie.
Sowat 166 boere en hul plaaswerkers (859 mense in totaal) het humanitêre en droogtehulp ontvang. Water Warriors-lede en vrywilligers het met 23 voertuie opgedaag, sommige met sleepwaentjies, asook nege gelede vragmotors met voer.
Water Warriors het nog drie gelede vragmotors met voerbale na Soutrivier gestuur, sowat 150km van Kenhardt om aan nog 13 boere bystand te verleen.
"Kenhardt se reaksie was een van ongeloof en boere en die gemeenskap kon nie genoeg dankie sê nie. Trane het gevloei, by die boere en by Water Warriors," sê Georgiet Pieter du Plessis, een van SA Water Warriors se ses lede.
Hy het die publiek en besighede bedank vir hul ruim skenkings, maar het gesê dit is teleurstellend dat van die einste besighede wat boere se produkte verkoop vir winsbejag, in tye van nood nêrens te vinde is om boere in hul nood te help nie. Sodra dinge weer goed gaan, ondersteun die boere weer die einste besighede met produke en koop self daar.
"South African Water Warriors se werk sal nooit ophou nie. Ons beplan reeds die volgende uitreik, ‘n projek wat 365 dae van die jaar in werking sal wees."
Op pad na Kendhardt.
Du Plessis het ‘n beroep gedoen op die publiek, boere, besighede en instansies om aan te hou om South African Water Warriors te ondersteun. "Ons hartklop is ons vrywillgers en donateurs. Sonder julle kan Water Warriors nie doen wat ons na aan die hart lê nie.
Vervoermaatskappye wat die voer vir ons vervoer, het ‘n ongelooflike werk gedoen onder Shannon Michelle, ons lid in Pretoria, maar dit bly een van ons grootste uitgawes en ons doen 'n beroep op vervoermaatskappye om betrokke te raak."
Kyk 'n video hieronder:
South African Water Warriors het ses lede regoor oor Suid-Afrika met ‘n wye netwerk van vrywilligers. Kontak hulle op hul Facebookblad of belvir Pieter du Plessis van George by 076 844 6435.
Daar was groot dankbaarheid onder boere vir die voer.
Vir die Kenhardt-uitreik is:
• Groente en kruideniersware aangekoop;
• Kruideniersware ingesamel en geskenk;
• Water gekoop (14 400l) en ingesamel (15 000l);
• Groente deur boere gekenk - 400kg uie en 400kg wortels;
• 300 dosyn eiers geskenk deur Golden Yolk;
• 300 pakkie tee geskenk deur Rooibostee;
• Voer geskenk deur boere van Vereeniging, Rosenkal, Bergville KZN, Denron en Balfour.
Ruim kosvoorrade is afgelaai.'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'